Johannes 5:6-22 Bybel vir Almal (ABA)

6. Jesus het die man daar sien lê en Hy het geweet dat die man baie lank siek was. Toe vra Jesus vir hom: “Wil jy gesond word?”

7. Die siek man het vir Jesus gesê: “Meneer, ek het niemand om my in die dam te sit wanneer die water begin beweeg nie. Elke maal wanneer ek probeer om in die water te kom, gaan iemand anders voor my in die water.”

8. Jesus sê toe vir hom: “Staan op, neem jou slaapmat en loop!”

9. Die man het dadelik gesond geword. Hy het sy slaapmat geneem en begin loop.Dit het op ’n Sabbatdag gebeur.

10. Die Jode sê toe vir die man wat gesond geword het: “Dit is ’n Sabbatdag. Jy mag nie jou slaapmat op die Sabbatdag dra nie!”

11. Die man het vir die Jode gesê: “Die man wat my gesond gemaak het, het gesê ek moet my slaapmat neem en loop.”

12. Die Jode het vir hom gevra: “Wie is die man wat vir jou gesê het jy moet jou slaapmat neem en loop?”

13. Die man wat gesond geword het, het nie geweet wie dit was wat hom gesond gemaak het nie. Jesus was ook nie meer daar nie. Hy het weggegaan omdat daar so baie mense was.

14. Later het Jesus die man in die tempel gekry. Jesus het vir hom gesê: “Jy is nou gesond. Jy moenie weer sonde doen nie, want dan sal iets met jou gebeur wat slegter is as die siekte wat jy gehad het.”

15. Toe gaan sê die man vir die Jode dit is Jesus wat hom gesond gemaak het.

16. Die Jode het begin om slegte dinge te doen aan Jesus omdat Hy die man op ’n Sabbatdag gesond gemaak het.

17. Jesus het vir hulle gesê: “My Vader werk nog altyd, ook op die Sabbatdag. Daarom doen Ek dit ook.”

18. Die Jode het van toe af hard probeer om Jesus dood te maak. Hulle wou Hom doodmaak omdat Hy nie gedoen het wat die wette oor die Sabbatdag sê nie, maar ook omdat Jesus gesê het God is sy Vader, en dit het beteken Jesus sê Hy is ook God.

19. Jesus het vir die Jode gesê: “Ek sê vir julle, en dit is seker: Ek is die Seun, maar die Seun mag nie self besluit om iets te doen nie, Hy doen net wat Hy gesien het sy Vader doen. Alles wat die Vader doen, doen die Seun ook.

20. Die Vader is lief vir die Seun en die Vader wys vir die Seun alles wat die Vader self doen. Die Vader sal vir die Seun dinge wys wat wonderliker is as om ’n siek man gesond te maak. Wanneer die Seun hierdie wonderlike dinge doen, dan sal julle verbaas wees.

21. “Die Vader laat mense opstaan wat gesterf het, Hy laat hulle weer lewe. Die Seun doen dieselfde, Hy laat ook mense weer lewe, die mense wat Hy wil laat lewe.

22. Die Vader oordeel niemand nie. Nee, Hy sê die Seun kan die mense oordeel.

Johannes 5