16. God is lief vir die mense, daarom het Hy sy Seun gegee. Daar is niemand soos die Seun nie. Elkeen wat in Hom glo, sal nie verlore gaan nie, maar sal die ewige lewe hê.
17. God het sy Seun na die mense toe gestuur, maar nie om die mense te straf nie. Nee, God het Hom gestuur om hulle te red.
18. Niemand anders is soos die Seun nie. As iemand in die Seun glo, dan straf God hom nie. Maar God straf nou elkeen wat nie in die Seun van God glo nie.
19. So skei God die mense van mekaar. Die lig het na die wêreld gekom, maar die mense was lief vir die donker, nie vir die lig nie. Hoekom? Hulle was lief vir die donker omdat hulle slegte dinge doen.
20. Iemand wat slegte dinge doen, hou nie van die lig nie. Hy kom nie na die lig toe nie, want hy wil nie hê die mense moet sien wat hy doen nie.
21. Maar iemand wat lewe soos God wil hê, kom na die lig, want hy wil hê die mense moet sien dat hy gehoorsaam is aan God.
22. Daarna het Jesus en sy dissipels na die provinsie Judea gegaan. Hy het ’n kort tydjie daar saam met sy dissipels gebly en Hy het mense gedoop.
23. Johannes was ook besig om mense te doop by Enon naby die stad Salim, want daar was baie water. Die mense het daarnatoe gekom, en hy het hulle gedoop.
24. Johannes was toe nog nie in die tronk nie.
25. ’n Paar van Johannes se dissipels het met ’n Jood begin stry oor hoe ’n mens rein kan word.
26. Hulle het na Johannes toe gegaan en hulle het vir hom gesê: “Rabbi, daar was ’n Man by jou anderkant die Jordaan-rivier. Jy het vir die mense vertel van Hom. Daardie Man doop nou mense, en almal gaan na Hom toe.”
27. Toe sê Johannes: “Dit is God wat so besluit het.
28. Julle het gehoor ek het voorheen gesê ek is nie die Christus nie. God het my vóór die Christus gestuur.
29. Onthou, die bruidegom is die een wat die bruid kry. Die bruidegom se vriend wat staan en wag, is baie bly wanneer hy hoor die bruidegom kom. Daarom is ek nou so bly.