13. Hulle het Hom eers na Annas toe geneem. Annas was die skoonpa van Kajafas. Kajafas was daardie jaar hoëpriester.
14. Dit was Kajafas wat vir die Jode gesê het dit is beter dat een mens sterf sodat al die mense van die volk kan lewe.
15. Simon Petrus en ’n ander dissipel het Jesus gevolg. Die hoëpriester het die ander dissipel geken. Daarom het die ander dissipel saam met Jesus ingegaan tot voor die huis van die hoëpriester,
16. maar Petrus het buite by die hek gebly staan. Later het die ander dissipel uitgekom, die hoëpriester het daardie dissipel geken. Die ander dissipel het met die vrou gepraat wat waggestaan het by die hek, en sy het vir Petrus laat inkom.
17. Die vrou wat waggestaan het by die hek, het vir Petrus gesê: “Is jy ook een van hierdie man se dissipels?”Petrus het vir haar gesê: “Nee, ek is nie.”
18. Dit was koud. Daarom het die slawe en die wagte vuur gemaak en hulle het hulleself warm gemaak. Petrus het ook by hulle gestaan en hy het homself warm gemaak.
19. Die hoëpriester het vir Jesus vrae gevra oor sy dissipels en oor alles wat Hy vir die mense geleer het.
20. Jesus het vir hom gesê: “Ek het altyd met die mense gepraat waar almal My kon sien. Ek het vir die mense geleer in die sinagoges en in die tempel waar baie Jode bymekaarkom. Ek het vir hulle geleer waar almal dit kon hoor.
21. Hoekom vra jy hierdie dinge vir My? Jy moet vir die mense gaan vra wat My gehoor het. Hulle weet wat Ek gesê het.”
22. Een van die wagte het daar naby gestaan. Toe hy hoor wat Jesus sê, klap hy vir Jesus en sê: “Jy moenie so lelik met die hoëpriester praat nie!”
23. Jesus het vir hom gesê: “As Ek iets verkeerd gesê het, dan moet jy vir My sê wat Ek verkeerd gesê het. Maar as Ek niks verkeerd gesê het nie, dan mag jy My nie klap nie.”
24. Toe het Annas vir Jesus na Kajafas gestuur. Kajafas was die hoëpriester. Jesus was nog vasgebind.
25. Simon Petrus het nog buite by die vuur gestaan en hy het homself warm gemaak. Die ander mense wat daar gestaan het, het vir hom gevra: “Is jy ook een van Jesus se dissipels?”Petrus het gesê: “Nee, ek is nie.”