Johannes 11:24-32 Bybel vir Almal (ABA)

24. Marta sê toe vir Jesus: “Ek weet hy sal weer lewe op die laaste dag wanneer God al die mense wat dood is, weer sal laat lewe.”

25. Jesus het vir haar gesê: “Ek laat mense lewe, Ek laat hulle vir altyd lewe. Mense wat in My glo en sterf, sal lewe.

26. Almal wat lewe en wat in My glo, sal nie dood bly nie. Glo jy wat Ek vir jou sê?”

27. Marta het vir Hom gesê: “Ja, Here, ek glo U is die Christus, die Seun van God. Ek glo U is die Een, God het U na die wêreld gestuur.”

28. Nadat Marta dit gesê het, het sy teruggegaan huis toe. Sy het haar suster Maria geroep en saggies vir haar gesê: “Die Rabbi is hier. Hy roep jou.”

29. Toe Maria dit hoor, het sy vinnig opgestaan en na Jesus toe gegaan.

30. Jesus het nog nie in die stad ingegaan nie. Hy was nog daar waar Marta met Hom gepraat het.

31. Daar was Jode saam met Maria in die huis. Hulle het gekom om haar te troos. Hulle het gesien Maria staan vinnig op en gaan buitetoe. Hulle het gedink sy gaan na Lasarus se graf om daar te gaan huil. Daarom het hulle saam met haar gegaan.

32. Maria het by die plek gekom waar Jesus gestaan het en sy het voor Hom gekniel. Sy het vir Hom gesê: “Here, as U hier was toe my broer siek was, dan het my broer nie gesterf nie.”

Johannes 11