1. Merodak-Baladan seun van Baladan was die koning van Babel. Hy het gehoor dat koning Hiskia siek was en dat hy weer gesond geword het. Hy het eendag vir Hiskia briewe en presente gestuur.
2. Hiskia was bly daaroor, en hy het vir die boodskappers van koning Merodak-Baladan alles gewys wat hy in sy stoorkamers gebêre het: die silwer en die goud, die balsem en die skoon olyf-olie, en ook sy hele wapenkamer, ja, alles wat in sy stoorkamers was. Hiskia het vir die boodskappers alles gewys wat in sy paleis en in sy hele land was.
3. Die profeet Jesaja het na koning Hiskia toe gekom en hy het vir die koning gevra: “Wat het daardie manne gesê? Van watter land het hulle gekom?”Hiskia het vir hom gesê: “Hulle het van ’n ver land na my toe gekom, van die land Babel.”
4. Jesaja het gevra: “Wat het hulle in jou paleis gesien?”Hiskia het gesê: “Hulle het alles gesien wat in my paleis is. Ek het vir hulle alles gewys wat in my stoorkamers is.”