Jeremia 52:18-29 Bybel vir Almal (ABA)

18. Hulle het ook die potte, die grawe en die messe, die bakke en al die goed van brons gevat. Dit was die goed wat die priesters by die tempel gebruik het.

19. Die hoof-offisier het ook die bekers, die emmers, die bakke, die potte en die lampe gevat, alles wat van goud en silwer was.

20. Die twee pilare en die groot waterbak en die twaalf beeste onder die waterbak, en die waentjies wat koning Salomo vir die tempel laat maak het, was so swaar dat ’n mens dit nie kon weeg nie. Al hierdie goed was van brons.

21. Elke pilaar was 18 el hoog en twaalf el rondom. Hulle was hol, en die brons was vier vingers dik.

22. Bo-op elke pilaar was ’n kopstuk van brons, dit was vyf el hoog. Daar was granate van brons rondom elke kopstuk.

23. Daar was 100 granate, maar ’n mens kon net 96 sien.

24. Die hoof-offisier het die hoëpriester Seraja gevang en ook die tweede priester en die drie drumpelwagte.

25. Hy het ook uit die stad een offisier gevat wat die hoof was van die soldate, en sewe van die koning se raadgewers wat in die stad was, en die sekretaris van die hoof van die leër wat die mense van die land moes roep om oorlog te maak, en ook 60 van die belangrike mense van die land wat in die stad was.

26. Die hoof-offisier Nebusaradan het hulle gebring na die koning van Babel in Ribla.

27. Die koning van Babel het hulle laat doodmaak in Ribla, in die land Hamat.Hy het ander Judeërs laat wegvat uit hulle land en hy het hulle na Babel gestuur.

28. Nebukadnesar het baie mense laat vang en laat wegvat:3 023 Judeërs in die sewende jaar,

29. 832 mense uit Jerusalem in die agtiende jaar nadat Nebukadnesar koning geword het,

Jeremia 52