Jeremia 52:10-21 Bybel vir Almal (ABA)

10. Hy het Sedekia se seuns en ook die amptenare van Juda laat doodmaak in Ribla. Sedekia moes kyk terwyl hulle dit gedoen het.

11. Toe het die koning Sedekia se oë laat uitsteek en hy het Sedekia met kettings laat vasbind. Daarna het die koning van Babel vir Sedekia na Babel laat bring en hy het Sedekia daar in die tronk gehou totdat hy gesterf het.

12. Nebusaradan, die hoof-offisier van die koning van Babel, het gekom in die vyfde maand, op die tiende dag van die maand, in die negentiende jaar nadat Nebukadnesar koning van Babel geword het. Hy het in Jerusalem kom doen wat die koning van Babel vir hom gesê het.

13. Nebusaradan het die tempel afgebrand en ook die paleis en al die groot huise in Jerusalem.

14. Al die soldate van die Galdeërs wat by die hoof-offisier was, het die mure rondom Jerusalem alles afgebreek.

15. Die hoof-offisier Nebusaradan het party van die arm mense weggevat en ook die mense wat nog in die stad was. Hy het ook die mense gevang en weggevat wat self besluit het om na die koning van Babel toe te gaan. Hulle was die mense wat oorgebly het van al die baie mense in die stad.

16. Maar Nebusaradan het party van die armste mense van die land daar laat bly om in die wingerde en op die koringlande te werk.

17. Die Galdeërs het die brons-pilare en die waentjies en die groot waterbak wat by die tempel was, stukkend geslaan en hulle het al die brons weggevat na Babel.

18. Hulle het ook die potte, die grawe en die messe, die bakke en al die goed van brons gevat. Dit was die goed wat die priesters by die tempel gebruik het.

19. Die hoof-offisier het ook die bekers, die emmers, die bakke, die potte en die lampe gevat, alles wat van goud en silwer was.

20. Die twee pilare en die groot waterbak en die twaalf beeste onder die waterbak, en die waentjies wat koning Salomo vir die tempel laat maak het, was so swaar dat ’n mens dit nie kon weeg nie. Al hierdie goed was van brons.

21. Elke pilaar was 18 el hoog en twaalf el rondom. Hulle was hol, en die brons was vier vingers dik.

Jeremia 52