Jeremia 31:23-34 Bybel vir Almal (ABA)

23. Die Here wat oor alles regeer, die God van Israel, sê: “Wanneer Ek dit weer goed laat gaan met die mense van Juda, dan sal hulle in die land Juda en in sy stede weer sê: ‘Gewyde berg, die Here sal jou seën, jy is die berg waar die mense woon wat reg doen.’

24. Al die mense van Juda en sy stede sal saam in Jerusalem woon, die mense wat in die grond werk en ook die wagters wat met hulle skape en bokke na ander plekke trek.

25. Ja, Ek gee nuwe krag vir elkeen wat moeg is, Ek laat elkeen wat honger is, meer as genoeg kos kry.

26. “Dit is hoekom Ek wakker geword het en gesien het dat die tyd gekom het om mense te red.”

27. Die Here sê: “Die tyd sal kom wanneer Ek die mense van Israel en die mense van Juda baie sal laat word. Hulle en hulle diere sal baie word.

28. Voorheen wou Ek hulle uitruk en afbreek, omgooi en verwoes en Ek wou dit sleg laat gaan met hulle. Maar nou wil Ek hulle bou en plant.

29. Voorheen het die mense gesê: ‘Die pa’s het suur druiwe geëet en daarom het die kinders se tande stomp geword.’ Hulle sal nie meer so sê nie.

30. Elke mens sal sterf oor die sondes wat hy self gedoen het, elkeen wat suur druiwe eet, se eie tande sal stomp word.”

31. Die Here sê: “Daar sal ’n tyd kom wanneer Ek ’n nuwe verbond sal maak met die mense van Israel en die mense van Juda.

32. Hierdie verbond sal nie wees soos die verbond wat Ek gemaak het met hulle voorvaders nie. Ek het hulle hande gevat om hulle uit die land Egipte te bring. Hulle het my verbond gebreek, maar hulle behoort nog aan My.”

33. Die Here sê: “Die verbond wat Ek later met die Israeliete sal maak, sal só wees: Ek sal my wette op hulle harte skryf sodat dit binne-in hulle sal wees. Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees.

34. Hulle sal nie meer vir mekaar leer of sê: ‘Jy moet die Here ken’ nie. Hulle almal sal My ken, onbelangrike en belangrike mense, want Ek sal hulle sondes vergewe, die dinge wat hulle verkeerd gedoen het, Ek sal nie meer dink aan hulle sondes nie.”

Jeremia 31