Jeremia 16:2-14 Bybel vir Almal (ABA)

2. “Jy moenie trou en kinders kryin hierdie plek nie,

3. want Ek sê die kinderswat op hierdie plek gebore word,en hulle ouers in hierdie land,

4. sal baie siek word en sterf.Niemand sal oor hulle huil en rouen hulle begrawe nie.Hulle sal op die grond bly lêsoos beesmis.Hulle sal sterf in oorlogof omdat hulle nie kos het nie,en die voëls en die dieresal hulle dooie liggame vreet.”

5. Ja, die Here het gesê: “Jy moenie in ’n huis kom waar mense saam eet om te rou nie, en jy moenie saam gaan rou en vir hulle wys jy is jammer nie, want Ek sal dit nie meer laat goed gaan met hierdie volk nie. Ek is nie meer lief en jammer vir hulle nie.

6. Die grootmense en die kinders in hierdie land sal sterf. Niemand sal hulle begrawe en oor hulle rou nie. Niemand sal homself stukkend sny of sy hare afskeer om te wys hy is hartseer oor hulle nie.

7. Wanneer iemand oor sy pa of oor sy ma rou, dan sal niemand vir hom ’n stukkie brood gee of vir hom iets gee om te drink om hom te troos nie.

8. En jy moenie in ’n eetkamer kom en saam met die mense eet en drink nie.

9. Ja, die Here wat oor alles regeer, die God van Israel, sê: Daar sal in hierdie plek nie meer partytjies wees waar mense vrolik en bly is nie, en hulle sal nie meer trou nie. Dit sal in julle tyd gebeur en julle sal dit sien.

10. En wanneer jy dit alles vir hierdie mense gesê het, en hulle vra vir jou: ‘Hoekom het die Here gesê Hy sal dit so sleg laat gaan met ons? Wat het ons verkeerd gedoen? Watter sonde het ons gedoen teen ons God die Here?’

11. dan moet jy vir hulle sê: Die Here sê: ‘Dit is omdat julle voorvaders ander gode gaan dien het en hulle aanbid het, en weggegaan het van My, en nie gedoen het wat Ek gesê het nie.

12. En júlle, julle het slegter dinge gedoen as julle voorvaders. Julle is hardkoppig, julle lewe soos julle self besluit, julle is nie gehoorsaam aan My nie.

13. Ek sal julle ver weggooi uit hierdie land tot in ’n land wat julle en julle voorvaders nie geken het nie, en daar sal julle elke dag en elke nag vir ander gode werk, en Ek sal nie jammer wees vir julle nie.’ ”

14. Die Here sê: “Dit sal gebeur, en daarom sal daar ’n tyd kom wanneer die mense nie meer sal sê: ‘So seker soos die Here lewe wat die Israeliete uit Egipte gebring het’ nie.

Jeremia 16