Jeremia 1:2-15 Bybel vir Almal (ABA)

2. Die Here het met Jeremia gepraat in die tyd toe Josia seun van Amon koning was in Juda. Dit was in die dertiende jaar nadat Josia koning geword het.

3. Die Here het ook met Jeremia gepraat in die tyd toe Josia se seun Jojakim koning was in Juda, en die Here het met Jeremia gepraat tot die einde van die elfde jaar nadat Josia se seun Sedekia koning geword het in Juda. In die vyfde maand van daardie jaar het vyande die mense van Jerusalem oorwin en weggevat na ’n ander land.

4. Die Here het vir my gesê:

5. “Ek het jou gekies voordat Ek jou gemaak het. Ek het jou gewy aan My voordat jy gebore is, Ek het jou aangestel om ’n profeet vir die volke te wees.”

6. Maar ek het gesê: “Ag, Here, my Here, ek kan nog nie goed praat nie, want ek is ’n kind.”

7. Toe sê die Here vir my:“Jy moenie sê jy is ’n kind nie,want Ek stuur jou na mense toe,en jy moet na hulle almal toe gaanen jy moet alles sê wat Ek vir jou sê.

8. Jy moenie bang wees vir die mense nie,want Ek sal by jou wees om jou te red.”Dit is wat die Here gesê het.

9. Toe het Hy sy hand uitgesteek en aan my mond geraak en vir my gesê: “Kyk, Ek sê vir jou wat jy moet sê.

10. Jy moet dit weet, Ek kies jou vandag en Ek sê vir jou wat om te doen met volke en lande: Jy moet uitruk en afbreek, jy moet doodmaak en verwoes, jy moet bou en plant.”

11. Die Here het vir my gevra: “Jeremia, wat sien jy?” en ek het gesê: “Ek sien ’n tak van ’n wakkerboom.”

12. Toe sê die Here vir my: “Jy het reg gesien, want Ek bly wakker om te doen wat Ek gesê het.”

13. Die Here het ’n tweede maal met my gepraat en gevra: “Wat sien jy?” en ek het gesê: “Ek sien in die noorde ’n pot wat kook, dit kook oor hiernatoe.”

14. Toe sê die Here vir my: “Ek sal uit die noorde iets laat gebeur. Dit sal almal laat swaarkry wat in hierdie land woon.

15. Ja, Ek roep nou al die konings van die lande in die noorde. Hulle sal kom, en elkeen sal sy troon neersit voor die poorte van Jerusalem, Jerusalem met sy sterk mure. Hulle sal begin om die mense van Jerusalem te oordeel en te straf, en ook die mense van die stede van Juda.

Jeremia 1