Hebreërs 11:23-40 Bybel vir Almal (ABA)

23. Moses se ouers het in God geglo, en daarom het hulle vir Moses drie maande lank weggesteek nadat hy gebore is. Hulle het dit gedoen omdat hulle gesien het die kind is baie mooi, en hulle was nie bang vir wat die koning gesê het nie.

24. Moses het groot geword en hy het in God geglo. Daarom wou hy nie hê dat mense hom die seun van die farao se dogter moet noem nie.

25. Nee, Moses het gekies om saam met die volk van God swaar te kry, hy het nie gekies om vir ’n kort tydjie die sonde te geniet nie.

26. Want Moses het gedink dat wanneer mense hom beledig soos hulle later die Christus beledig het, dan is hy ryker as wanneer hy al die mooi en duur goed van Egipte sal hê, want Moses wou graag die beloning kry.

27. Moses het in God geglo, dáárom het hy weggegaan uit Egipte, en nié omdat hy bang was vir die koning wat baie kwaad geword het nie. Moses het dit gedoen omdat hy was soos iemand wat vir God kon sien, ander mense kon nie vir God sien nie.

28. Moses het in God geglo, en daarom het hy gesê die Israeliete moet die Paasfees vier en mense moet bloed spat teen die deure se rame sodat die engel wat mense moet doodmaak, nie die oudste seuns en die eerste kalwers en lammers van die Israeliete begin doodmaak nie.

29. Die Israeliete het in God geglo, en daarom het hulle deur die Rooi See gegaan soos wanneer mense oor droë grond trek. Toe die Egiptenaars dit probeer doen het, het hulle in die see verdrink.

30. Die Israeliete het in God geglo, en daarom het die mure van Jerigo geval nadat die Israeliete sewe dae lank om die mure van Jerigo geloop het.

31. Ragab, die prostituut, het in God geglo, en daarom het sy gesê dat die spioene van die Israeliete welkom is by haar, daarom het sy nie gesterf nie.

32. Ek sal nie nog iets sê nie, dit is nie nodig nie, want dit sal baie lank neem om te vertel van Gideon, Barak, Simson, Jefta, Dawid en Samuel en die profete.

33. Hulle almal het in God geglo, en daarom het hulle die konings van ander lande oorwin. Hulle het gedoen wat reg is, hulle het gekry wat God vir hulle belowe het. Hulle het in God geglo en daarom kon leeus nie hulle bekke oopmaak om hulle te byt nie.

34. Hulle het groot vure doodgemaak, hulle het vry weggekom toe mense hulle wou doodmaak met die swaard. Hulle was swak, maar hulle het sterk geword, hulle was baie sterk soldate en hulle het die leërs van die vyande laat vlug.

35. Vroue het hulle mense wat gesterf het, teruggekry uit die dood omdat God hulle weer laat lewe het. Mense het gelowiges so seer gemaak dat hulle gesterf het. Hierdie gelowiges wou nie sê dat hulle opgehou het om in God te glo nie. As hulle dit gesê het, dan sou hulle vry kon weggaan. Maar hierdie mense wat so gesterf het, het geglo dat God hulle weer sal laat lewe in ’n beter lewe.

36. Mense het ander gelowiges gespot en met ’n sweep geslaan, hulle het die gelowiges ook geboei en in die tronk gesit.

37. Mense het hulle met klippe doodgegooi, met ’n saag in stukke gesaag, met ’n swaard doodgemaak. Ander gelowiges het rondgeloop in klere van skaapvelle en bokvelle. Hulle het nie kos en klere gehad nie, mense het hulle laat swaarkry en het hulle baie seer gemaak.

38. Hierdie mense wat in God geglo het, was te goed vir die mense van die wêreld. Hulle het rondgeswerf in woestyne en op berge en in grotte en gate in die grond.

39. Die Ou Testament sê vir ons dat God tevrede was met al hierdie voorouers van ons omdat hulle in Hom geglo het. Maar Hy het nie vir hulle die dinge gegee wat Hy belowe het nie.

40. God het dit gedoen omdat Hy ’n beter plan gehad het vir ons wat in Christus glo. God wou hê dat hulle en ons almal saam moet wees soos Hy wil hê ons moet wees.

Hebreërs 11