28. Hy het gesê: “Ons het ernstig vir julle gesê: Julle mag nie vir die mense leer van Jesus nie. En nou praat almal in Jerusalem oor die dinge wat julle vir die mense leer. Julle sê ook dat dit óns is wat hierdie man doodgemaak het.”
29. Petrus en die apostels het geantwoord en gesê: “Ons moet meer gehoorsaam wees aan God as aan mense.
30. Julle het vir Jesus doodgemaak toe julle Hom aan die kruis opgehang het, maar toe het die God van ons voorvaders vir Jesus weer laat lewe.
31. God het vir hierdie Jesus die Leier en Redder gemaak. God het vir Jesus gesê Hy moet op die belangrikste plek langs God kom sit sodat die mense van Israel kan verander en kan lewe soos God wil hê en sodat Hy hulle sonde kan vergewe.
32. Ons is getuies dat hierdie dinge gebeur het. God het die Heilige Gees gegee aan die mense wat luister na God, en die Heilige Gees getuig ook dat dit alles waar is.”
33. Die Joodse leiers het baie kwaad geword toe hulle dit hoor, en hulle het besluit om die apostels dood te maak.
34. Toe het iemand van die Joodse Raad opgestaan. Sy naam was Gamaliël. Hy was ’n Fariseër en ’n skrifgeleerde, en al die mense het hom gerespekteer. Hy het gesê dat die wagte die apostels ’n klein tydjie buite moet laat staan.
35. Gamaliël het toe vir die Joodse Raad gesê: “Vriende, Israeliete, julle moet oppas. Julle moet dink oor wat julle aan hierdie manne wil doen.
36. Julle weet dat daar ’n tyd gelede iemand was, sy naam was Teudas. Hy het vir die mense gesê dat hy baie belangrik is. Omtrent 400 manne het hom gevolg. Maar die regering het hom laat doodmaak en hulle het die manne wat hom gevolg het, na al die kante toe gejaag. Ons het nie weer gehoor van Teudas en die manne wat hom gevolg het nie.
37. Ná Teudas het Judas die Galileër opstandig geword teen die regering. Dit was in die tyd toe die regering die mense van die land getel het. Judas het gesê die mense moet saam met hom opstandig word. Maar die regering het ook vir Judas laat doodmaak, en hulle het almal wat vir Judas gevolg het, na al die kante toe gejaag.
38. En nou praat ek oor die dinge wat nóú gebeur. Hierdie manne maak planne en hulle is besig om dinge te doen, maar ek sê vir julle: Julle moet wegbly van hierdie manne, los hulle. Want as hulle planne en die dinge wat hulle doen, net van ménse kom, dan beteken dit niks.
39. Maar as dit Gód is wat dit doen, dan sal julle nie vir hulle kan keer nie. Julle sal miskien later besef dat julle teen God baklei het.”Die Joodse Raad het geluister na Gamaliël.
40. Hulle het gesê dat die apostels weer moet inkom na hulle toe. Hulle het die apostels geslaan en gesê dat hulle nie mag preek oor Jesus nie. Toe het hulle die apostels laat gaan.
41. Die apostels het weggegaan van die Joodse Raad. Hulle was baie bly dat die Here besluit het dat dit húlle is wat moet swaarkry omdat hulle aan Jesus behoort.
42. Hulle het aangehou om elke dag in die tempel en by die huise vir die mense te leer en om die goeie boodskap te bring dat Jesus die Christus is.