17. Toe het die hoëpriester en die hele groep wat saam met hom regeer het, baie jaloers geword. Hulle was Sadduseërs. Hulle het besluit om iets sleg te doen aan die gelowiges.
18. Hulle het die apostels gevang en in die tronk gesit waar die gewone gevangenes was.
19. Maar ’n engel van die Here het in die nag gekom. Hy het die deure van die tronk oopgemaak en hy het die apostels na buite gelei.
20. Hy het vir die apostels gesê: “Gaan staan in die tempel en preek vir die mense alles wat hulle moet hoor van Jesus, sodat hulle waarlik kan lewe.”
21. Die apostels het gedoen wat die engel gesê het. Hulle het baie vroeg die volgende oggend na die tempel gegaan en vir die mense geleer.Die hoëpriester en die mense wat saam met hom regeer het, het toe gesê al die mense van die Joodse Raad en al die familieleiers van Israel moet bymekaarkom en hulle moet vergadering hou. Hulle het toe wagte na die tronk gestuur om die apostels te gaan haal.
22. Maar toe die wagte by die tronk kom, het hulle gesien die apostels is nie daar nie. Hulle het teruggekom en hulle het dit vir die Joodse leiers vertel.
23. Hulle het gesê: “Toe ons by die tronk kom, was die tronk gesluit. Al die deure was toegesluit, en die wagte het by die deure gestaan. Maar toe ons die deure oopmaak, was daar niemand binne nie.”
24. Toe die offisier van die wagte wat by die tempel werk en die priesterleiers dit hoor, was hulle baie verbaas. Hulle het gewonder wat gebeur het.
25. Toe kom daar iemand en hy sê vir hulle: “Weet julle wat gebeur het? Die manne wat in die tronk was, staan in die tempel en hulle leer vir die mense.”
26. Die offisier en die wagte het toe die apostels gaan haal. Hulle was nie kwaai met die apostels nie, want hulle was bang dat die mense hulle met klippe sal gooi.
27. Hulle het die apostels gebring en hulle het die apostels voor die Joodse Raad laat staan. Die hoëpriester het hulle begin uitvra.
28. Hy het gesê: “Ons het ernstig vir julle gesê: Julle mag nie vir die mense leer van Jesus nie. En nou praat almal in Jerusalem oor die dinge wat julle vir die mense leer. Julle sê ook dat dit óns is wat hierdie man doodgemaak het.”