Handelinge 5:12-22 Bybel vir Almal (ABA)

12. Die Here het die apostels baie tekens en wonderwerke laat doen by die mense. En al die gelowiges het baie maal bymekaargekom in die Pilaargang van Salomo.

13. Die ander mense was ’n bietjie bang om saam met die gelowiges te aanbid. Maar hulle het die gelowiges gerespekteer.

14. Later het die Here meer en meer mense laat kom om saam met die gemeente te aanbid, mense wat in Hom glo. Daar was baie mans en vroue.

15. Die mense van Jerusalem het die siek mense uitgedra tot buite in die strate. Daar het hulle die siek mense neergesit op slaapmatte en beddens. Hulle het gehoop dat Petrus sal verbykom en dat sy skaduwee op een van die siek mense sal val.

16. Baie mense het ook van die stede rondom Jerusalem gekom. Hulle het hulle siek mense gebring en ook die mense wat onrein geeste in hulle gehad het, en die Here het hulle almal gesond gemaak.

17. Toe het die hoëpriester en die hele groep wat saam met hom regeer het, baie jaloers geword. Hulle was Sadduseërs. Hulle het besluit om iets sleg te doen aan die gelowiges.

18. Hulle het die apostels gevang en in die tronk gesit waar die gewone gevangenes was.

19. Maar ’n engel van die Here het in die nag gekom. Hy het die deure van die tronk oopgemaak en hy het die apostels na buite gelei.

20. Hy het vir die apostels gesê: “Gaan staan in die tempel en preek vir die mense alles wat hulle moet hoor van Jesus, sodat hulle waarlik kan lewe.”

21. Die apostels het gedoen wat die engel gesê het. Hulle het baie vroeg die volgende oggend na die tempel gegaan en vir die mense geleer.Die hoëpriester en die mense wat saam met hom regeer het, het toe gesê al die mense van die Joodse Raad en al die familieleiers van Israel moet bymekaarkom en hulle moet vergadering hou. Hulle het toe wagte na die tronk gestuur om die apostels te gaan haal.

22. Maar toe die wagte by die tronk kom, het hulle gesien die apostels is nie daar nie. Hulle het teruggekom en hulle het dit vir die Joodse leiers vertel.

Handelinge 5