8. en hy het opgespring en regop gestaan. Toe begin hy rondloop en hy gaan saam met Petrus en Johannes in die tempel in terwyl hy loop en spring en vir God prys.
9. Al die mense het gesien dat hy rondloop en dat hy vir God prys.
10. Hulle het hom geken, hulle het geweet dat hy die man was wat by die Mooi-poort van die tempel gesit het en geld gevra het. En hulle was baie verbaas oor wat met hom gebeur het.
11. Die man het vasgehou aan Petrus en Johannes. Hulle het gestaan in die Pilaargang van Salomo en al die mense het na hulle toe gehardloop. Die mense was baie verbaas.
12. Toe Petrus die mense sien, het hy met hulle begin praat en gesê:“Israeliete, hoekom is julle so verbaas oor hierdie wonderwerk? En hoekom kyk julle so na ons? Dink julle ons het met ons eie krag hierdie man weer laat loop? Of dink julle ons kon dit doen omdat ons so godsdienstig is?
13. Nee, dit is die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob wat dit gedoen het. Ja, die God van ons voorvaders het dit gedoen. God het gesê sy Dienaar Jesus moet die Koning wees. Toe Jesus voor Pilatus gestaan het, wou Pilatus vir Jesus vry laat weggaan. Maar julle het Hom vir die Romeine gegee sodat hulle Hom kan doodmaak, julle wou Hom nie aanvaar nie.
14. Julle wou nie die Heilige en Regverdige aanvaar nie. Julle het gevra dat Pilatus ’n moordenaar vry moet laat weggaan.
15. Maar julle het die Leier doodgemaak wat vir mense die lewe wil gee. God het Hom weer laat lewe, en ons is die getuies daarvan.
16. Hierdie lam man het in Jesus geglo toe hy sy Naam hoor, daarom het Jesus die man se bene sterk gemaak. Julle sien hierdie man en julle ken hom. Jesus het vir die man die geloof gegee en hierdie geloof het hom heeltemal gesond gemaak, julle almal het dit gesien.
17. Ja, vriende, ek weet julle het nie besef wat julle doen nie, julle leiers het ook nie besef wat hulle doen nie.
18. Maar God het lank gelede vir al die profete gesê hulle moet die boodskap bring dat die Christus van God sal swaarkry en sal ly. En nou het God dit alles waar laat word.
19. Daarom moet julle nou julle lewe verander en julle moet lewe soos God wil hê. Julle moet na God toe gaan sodat Hy julle sondes heeltemal kan wegneem.
20. Dan sal julle weet dat die Christus regeer en julle sal kalm en rustig wees. En die Here sal vir Jesus stuur, Hy het vir Jesus gekies en aangestel om die Christus te wees.
21. Jesus moet in die hemel bly totdat God alles nuut gemaak het. God het al hierdie dinge lank gelede gesê toe Hy vir sy gewyde profete gesê het om dit te sê.
22. Moses het gesê: ‘Julle God die Here sal vir julle ’n profeet stuur, die profeet sal wees soos ek is. Hierdie profeet sal een van julle wees. Julle moet luister na alles wat hy vir julle sal sê.
23. Elkeen wat nie luister na daardie profeet nie, moet dit weet: Die Here sal hom wegvat van sy mense.’