Handelinge 26:1-15 Bybel vir Almal (ABA)

1. Koning Agrippa het vir Paulus gesê: “Jy mag nou iets sê oor jouself.”Toe het Paulus sy hand uitgesteek en hy het begin sê hoekom hy onskuldig is. Hy het gesê:

2. “Koning Agrippa, die Jode beskuldig my en hulle sê ek het baie verkeerde dinge gedoen, maar ek is bly dat ek vandag voor jou kan staan en kan sê hoekom ek onskuldig is.

3. Ek is nog meer bly omdat jy weet hoe die Jode lewe en waaroor ons stry. Daarom vra ek mooi vir jou om geduldig te luister terwyl ek praat.

4. “Al die Jode weet hoe ek gelewe het, vandat ek ’n kind was. Vandat ek klein was, het ek tussen my eie volk en in Jerusalem gebly.

5. Hulle ken my ’n lang tyd. As hulle wil, dan sal hulle kan sê dat ek die waarheid praat wanneer ek sê dat ek ’n Fariseër was en dat ek gelewe het soos die Fariseërs. Die Fariseërs is die strengste groep in ons godsdiens, hulle lewe presies soos die wette sê.

6. En nou staan ek voor jou sodat jy my kan oordeel omdat ek glo en weet dat God sal doen wat Hy vir ons voorvaders belowe het.

7. Ons twaalf stamme hou aan om vir God te dien, want ons weet en hoop dat God sal doen wat Hy belowe het. Ja, koning Agrippa, die Jode beskuldig my omdat ek weet en hoop dat God sal doen wat Hy belowe het.

8. Hoekom wil julle nie glo dat God mense wat gesterf het, weer kan laat lewe nie?

9. “Voorheen het ek gedink dat ek baie slegte dinge moet doen teen die Naam van Jesus van Nasaret.

10. In Jerusalem het ek baie slegte dinge gedoen aan die mense wat aan God behoort. Ek het baie van daardie mense in tronke laat gooi. Die priesterleiers het gesê ek mag dit doen. Ek het ook gesê dit is reg toe hulle die mense doodgemaak het wat aan Jesus behoort.

11. Ek het hulle baie maal gestraf en ek het gesê hulle móét in al die sinagoges slegte dinge sê teen God. Ek was baie kwaad vir hulle en ek het baie slegte dinge gedoen aan hulle, ook in die stede in ander lande, ver weg van Jerusalem.

12. “Dit is hoekom ek na die stad Damaskus gegaan het. Die priesterleiers het gesê ek kan en moet dit gaan doen.

13. Ek was besig om na die stad Damaskus te gaan. Dit was omtrent twaalfuur die middag. Koning, toe het ek ’n lig gesien wat uit die hemel skyn. Die lig was baie helder, meer helder as die son. Die lig het op my geskyn, en ook op die mense wat saam met my geloop het.

14. Ons het almal op die grond geval, en toe het ek Iemand gehoor praat. Hy het in Hebreeus vir my gesê: ‘Saul, Saul, hoekom doen jy slegte dinge aan My? Jy maak jouself seer as jy nie na My luister nie.’

15. “Ek het geantwoord: ‘Wie is U, Here?’ En die Here het vir my gesê: ‘Ek is Jesus. Jy doen slegte dinge aan My.

Handelinge 26