Handelinge 18:18-27 Bybel vir Almal (ABA)

18. Paulus het ’n lang tyd daar by die gelowiges in Korinte gebly. Toe het hy hulle gegroet en hy het met ’n skip weggeseil na die provinsie Sirië. Hy het eers in die hawestad Kenchreë sy hare laat afskeer. Hy het dit gedoen omdat hy ’n gelofte gemaak het. Priscilla en Akwila het ook saam met hom weggegaan.

19. Toe het hulle in Efese gekom, dit is die stad waar Paulus vir Akwila en Priscilla laat bly het toe hy later daar weggegaan het. Paulus het eers na die sinagoge gegaan en hy het daar met die Jode gepraat.

20. Toe die Jode hom vra om langer daar te bly, wou hy dit nie doen nie.

21. Hy het hulle gegroet en gesê: “As God wil hê dit moet gebeur, dan sal ek weer na julle toe kom.”Toe het hy met ’n skip weggeseil van Efese.

22. Nadat Paulus in die hawestad Sesarea aangekom het, het hy na Jerusalem gegaan en hy het die gemeente daar gegroet. Toe het hy na die stad Antiogië gegaan

23. en hy het ’n tyd lank daar gebly.Toe het Paulus weggegaan van die stad Antiogië en hy het van die een plek na die ander plek deur die lande Galasië en Frigië gegaan. Hy het al die gelowiges bemoedig.

24. ’n Jood, Apollos, het in die stad Efese aangekom. Hy is gebore in die stad Aleksandrië en hy was iemand wat baie goed kon praat. Hy het die Ou Testament baie goed geken.

25. Apollos het by mense baie geleer hoe die Here wil hê ’n mens moet lewe. Hy was baie opgewonde en hy het aanmekaar daaroor gepraat. Hy het vir die mense die dinge oor Jesus reg geleer, maar hy het net geweet dat Johannes die Doper mense gedoop het. Hy het nie geweet dat die apostels ook mense gedoop het in die Naam van Jesus nie.

26. Apollos het in die sinagoge begin preek, hy was nie bang om dit te doen nie. Toe Priscilla en Akwila hoor wat hy sê, het hulle hom saam met hulle huis toe geneem en hulle het vir hom meer vertel van die dinge van God.

27. Toe Apollos na die land Agaje wou gaan, het die gelowiges in Efese hom bemoedig. Hulle het ook ’n brief geskryf vir die gelowiges in Agaje om te vra dat hulle vir Apollos moet sê hy is welkom. In Agaje was daar mense wat gelowiges geword het omdat God genadig was vir hulle. Nadat Apollos daar aangekom het, het hy vir hulle baie gehelp.

Handelinge 18