Handelinge 1:10-25 Bybel vir Almal (ABA)

10. Terwyl Jesus weggegaan het en die apostels na die hemel gekyk het, het daar skielik twee manne by hulle gestaan, die manne het wit klere aangehad.

11. Die manne het gesê: “Manne van Galilea, hoekom kyk julle so na die hemel? God het vir Jesus weggeneem na die hemel, maar dieselfde Jesus sal weer kom soos julle gesien het dat Hy weggaan na die hemel.”

12. Die apostels was op die Olyf-berg, naby Jerusalem, so ver soos ’n mens op die Sabbatdag mag loop. Hulle het toe teruggegaan na Jerusalem.

13. Toe hulle in Jerusalem kom, het hulle na die huis se bo-kamer gegaan waar hulle gebly het. Die apostels se name was: Petrus en Johannes en Jakobus en Andreas, Filippus en Tomas, Bartolomeus en Matteus, Jakobus die seun van Alfeus, Simon die patriot en Judas die seun van Jakobus.

14. Die apostels het altyd saam gebid, saam met ’n paar vroue. Jesus se ma Maria en sy broers het ook saam gebid.

15. Eendag was daar omtrent 120 mense bymekaar. Toe het Petrus, die leier, opgestaan en vir hulle gesê:

16. “Vriende, die Heilige Gees het lank gelede vir Dawid gebruik om in die Ou Testament iets te sê oor Judas. Julle weet dat Judas vir die Joodse leiers gesê het hoe hulle vir Jesus kan vang. Daardie woorde in die Ou Testament móés waar word, en dit hét gebeur.

17. Want Judas was een van ons en hy het die werk van ’n apostel gedoen.

18. Judas het ’n stuk grond gekoop met die omkoopgeld wat hy van die Joodse leiers gekry het. ’n Paar dae later het hy vooroor geval, sy maag het oopgebars en sy derms het uitgekom.

19. Die mense van Jerusalem weet almal daarvan. Hulle noem daardie stuk grond in hulle eie taal ‘Akeldama,’ dit beteken ‘Bloedgrond.’

20. Want in die Psalms is daar geskryf:“Sy woonplek moet’n woestyn word,daar moet niemand woon nie,“en“iemand anders moetsy werk doen.

21. “Ons moet nou ’n man kies in Judas se plek. Hy moet iemand wees wat die hele tyd by ons was toe die Here Jesus sy werk gedoen het op die aarde,

22. van die tyd toe Johannes gedoop het totdat Jesus na die hemel gegaan het. Hy moet saam met ons ’n getuie wees dat Jesus weer lewe nadat Hy gesterf het. Ons moet so ’n persoon kies.”

23. Hulle het toe twee manne se name genoem. Dit was Josef en Mattias. Josef se ander name was Barsabbas en Justus.

24. Toe het hulle gebid en gevra: “Here, U ken almal se harte. U het een van hierdie twee manne gekies

25. om in Judas se plek te werk en ’n apostel te wees. U moet vir ons wys wie dit is, want Judas het sy werk gelos en hy het na sy eie plek gegaan.”

Handelinge 1