20. Julle moet daarna julle jongste broer na my toe bring. Dan sal ek julle glo, en dan sal julle nie sterf nie.”Die broers het dit toe gedoen.
21. Hulle het vir mekaar gesê: “Ons is skuldig, want ons het ’n baie verkeerde ding aan ons broer gedoen. Ons het gesien dat hy baie bang was, en hy het ons gesoebat om hom te help, maar ons het nie geluister nie. Daarom het ons nou hierdie probleme gekry.”
22. Ruben het vir hulle gesê: “Ek het vir julle gesê julle moet dit nie met die kind doen nie, maar julle het nie geluister nie. Dit is ons skuld dat hy dood is, daarom straf God ons nou.”
23. Hulle het nie besef dat Josef alles verstaan wat hulle vir mekaar sê nie, want wanneer hulle met Josef gepraat het, dan het iemand vir hulle en Josef getolk.
24. Josef het uitgegaan en hy het gaan huil. Toe het hy teruggekom na hulle toe en hy het met hulle gepraat. Hy het vir Simeon laat vasbind terwyl hulle gekyk het.
25. Josef het vir sy slawe gesê om sy broers se sakke vol koring te maak, en om hulle geld terug te sit in hulle sakke. Josef het ook gesê sy slawe moet vir sy broers padkos gee.
26. Josef se broers het hulle koring op hulle donkies gelaai en teruggegaan.
27. Hulle het by ’n plek gekom waar hulle daardie aand wou slaap, en een van die broers het sy sak oopgemaak om vir sy donkie kos te gee. Toe sien hy sy geld. Dit was bo in die sak.
28. Hy sê toe vir sy broers: “Hulle het my geld teruggesit. Hier is dit in my sak.”Die broers het baie groot geskrik. Toe vra hulle vir mekaar: “Wat het God nou aan ons gedoen?”
29. Toe hulle by hulle pa Jakob in Kanaän kom, het hulle vir hom vertel wat alles met hulle gebeur het.
30. Hulle het gesê: “Die man wat die hoof van die land is, het kwaai met ons gepraat en hy het ons toegesluit in die tronk. Hy het gesê ons is spioene in sy land.
31. Ons het vir hom gesê ons is eerlike mense, ons is nie spioene nie.
32. Ons het vir hom gesê ons was twaalf broers, ons was almal seuns van dieselfde pa, een broer is dood en die jongste broer is by Pa in Kanaän.