Genesis 37:4-21 Bybel vir Almal (ABA)

4. Sy broers het gesien dat hulle pa meer lief is vir Josef as vir hulle. Daarom het hulle vir Josef gehaat. Hulle wou niks goed van hom sê nie, hulle het gewens dat dit sleg gaan met hom.

5. Josef het een nag gedroom en hy het vir sy broers vertel wat hy gedroom het. Toe het hulle hom nog meer gehaat.

6. Hy het vir hulle gesê: “Ek het gedroom

7. dat ons besig was om koring-gerwe vas te bind op die koringland. My gerf het regop gaan staan, en julle gerwe kom staan toe rondom my gerf en buig voor hom.”

8. Sy broers sê toe vir hom: “Dink jy regtig jy sal koning word en oor ons regeer?”Hulle het hom nog meer gehaat oor die droom waarvan hy hulle vertel het.

9. Josef het weer gedroom en hy het vir sy broers vertel wat hy gedroom het. Hy het gesê: “Ek het weer gedroom. Ek het gedroom dat die son en die maan en elf sterre voor my kom buig.”

10. Hy het vir sy pa en sy broers vertel wat hy gedroom het. Sy pa het toe met hom geraas en hy het vir Josef gesê: “Wat droom jy? Dit is nie reg dat ek en jou ma en jou broers voor jou moet kom buig nie.”

11. Sy broers was baie jaloers op hom, maar sy pa het baie oor die drome gedink.

12. Josef se broers het hulle pa se skape en bokke naby die stad Sigem gaan oppas.

13. Jakob het vir Josef gesê: “Jou broers pas die skape en bokke op in Sigem. Jy moet na hulle toe gaan.”Josef het gesê: “Goed, Pa, ek sal gaan.”

14. Toe sê Jakob vir Josef: “Gaan kyk of dit goed gaan met jou broers en of dit goed gaan met die skape en bokke. Gaan kyk en kom vertel alles vir my.”So het Jakob vir Josef uit die Hebron-vallei gestuur, en Josef het na Sigem gegaan.

15. Josef het in die veld geloop, en ’n man het hom gesien. Die man vra toe vir hom: “Wat soek jy?”

16. Josef antwoord hom: “Ek soek my broers. As jy weet waar hulle die skape en bokke oppas, sê asseblief vir my.”

17. Die man sê toe: “Hulle is nie meer hier nie. Hulle het weggegaan van hier. Ek het gehoor hulle sê hulle gaan na Dotan.”Josef het sy broers gevolg en hy het hulle in Dotan gekry.

18. Hy was nog ver van hulle, toe het hulle hom gesien aankom. Voordat hy by hulle gekom het, het hulle ’n plan gemaak om hom dood te maak.

19. Hulle het vir mekaar gesê: “Daar kom die groot dromer aan.

20. Kom ons maak hom dood en gooi hom in ’n put. Ons kan vir ons pa vertel dat ’n wilde dier hom opgevreet het. Dan sal ons sien dat al sy drome niks beteken het nie.”

21. Maar Ruben het dit gehoor en hy wou vir Josef red. Hy sê toe: “Nee, ons moenie hom doodmaak nie.

Genesis 37