Esra 9:1-9 Bybel vir Almal (ABA)

1. Nadat hierdie dinge gebeur het, het leiers na my toe gekom en gesê: “Die Israeliete, die priesters en die Leviete het nie apart gebly van die ander mense in die land nie. Hulle het nie apart gebly van die Kanaäniete, Hetiete, Feresiete, Jebusiete, Ammoniete, Moabiete, Egiptenaars en Amoriete nie. Daardie mense doen dinge wat die Here haat.

2. Nee, party Israeliete en hulle seuns het getrou met dogters van daardie mense. Die gewyde volk het gemeng met die ander mense in die land, en die leiers en hoofde het dit eerste gedoen.”

3. Toe ek dit hoor, het ek my klere geskeur, ook my bo-kleed. En ek het van my hare en baard uitgetrek en ek het gaan sit. Ek was baie hartseer en ontsteld.

4. Ander mense het by my kom staan. Hulle was die mense wat bang geword het toe hulle dink aan wat die God van Israel sou sê omdat die mense baie ontrou was, die mense wat gevangenes in Babel was en wat teruggekom het. Ek was ontsteld en ek het daar gesit totdat dit tyd was vir die aand-offer.

5. Toe dit tyd was vir die aand-offer, het ek opgestaan. Ek was hartseer en ontsteld en my klere was geskeur, my bo-kleed ook. Ek het op my knieë gaan staan en ek het my hande uitgesteek na my God die Here toe

6. en ek het gesê: “My God, ek is baie skaam, ek voel baie sleg, ek kan nie opkyk na U toe nie, want ons sondes het baie geword, dit is so hoog soos die hemel.

7. Ons is skuldig, van die tyd van ons voorvaders tot vandag toe, daarom het U ons en ons konings en ons priesters gegee vir konings van ander lande. Hulle het ons mense doodgemaak, hulle het ons gevang en weggevat, hulle het ons goed gevat en hulle het ons verneder. Dit is nou nog so.

8. En toe was ons God die Here ’n kort tydjie jammer vir ons. Hy het party van ons vry laat wegkom en Hy het vir ons ’n vaste woonplek gegee in sy gewyde plek. Ons God het ons oë weer laat blink, want ons was bly. Ons was slawe, maar U het ons weer laat hoop.

9. Ja, ons is slawe, maar ons God het ons nie gelos nie. Hy het die konings van Persië laat doen wat hulle belowe het. Ons het weer sterk gevoel om die tempel van ons God te bou, om weer mure te maak van sy hope klippe. Ons kan veilig woon in Juda en Jerusalem.

Esra 9