1. Die Here, Hy wat Here is, sê: “Die oos-poort na die binneste oop stuk grond moet toe bly op die ses werkdae. Maar hulle moet die poort oopmaak op die Sabbatdag en op die Nuwemaan-dag.
2. Dan moet die regeerder van buite inkom deur die voorportaal van die poort en hy moet by die drumpel van die poort gaan staan. Die priesters moet dan die regeerder se brand-offers en ete-offers offer. Daarna moet die regeerder by die drumpel buig, en dan moet hy uitgaan. Maar hulle moenie die poort sluit voor die aand nie.
3. Die gewone mense moet elke Sabbatdag en elke Nuwemaan-dag by die deur van dieselfde poort voor die Here kom buig.
4. Die brand-offer wat die regeerder vir die Here moet bring op die Sabbatdag, is ses gesonde lammers en ’n gesonde skaap-ram.
5. Die koring-offer wat hy saam met die skaap-ram gee, moet een efa wees, en saam met die lammers kan hy gee soveel soos hy wil. Hy moet een hin olyf-olie gee vir elke efa.
6. Op Nuwemaan-dag moet die regeerder ’n gesonde bul en ses lammers en ’n skaap-ram bring. Hulle moet gesond wees.
7. Hy moet ook ’n koring-offer bring. Die koring-offer is een efa koring saam met ’n bul en een efa koring saam met ’n skaap-ram, en saam met die lammers kan hy gee soveel soos hy kan. Daar moet een hin olyf-olie by elke efa wees.
8. Wanneer die regeerder ingaan, dan moet hy deur die voorportaal van die poort ingaan, en hy moet weer daar uitgaan.
9. Wanneer die gewone mense voor die Here moet kom op die feesdae, dan moet die mense wat deur die noord-poort ingekom het om te buig, deur die suid-poort uitgaan, en die mense wat deur die suid-poort ingekom het, moet deur die noord-poort uitgaan. Niemand moet teruggaan deur die poort waar hy ingegaan het nie, almal moet by die ander kant uitgaan.
10. Die regeerder moet saam met die gewone mense inkom en uitgaan.
11. Op die feeste, op elke feesdag, moet die regeerder ook ’n koring-offer bring. Die koring-offer is een efa koring saam met ’n bul en een efa koring saam met ’n skaap-ram, en saam met die lammers kan hy gee soveel koring soos hy wil, maar hy moet een hin olyf-olie saam met elke efa koring gee.
12. Die regeerder kan ook ’n vrywillige offer bring. Dit kan ’n brand-offer of ’n ete-offer vir die Here wees. Hulle moet dan die oos-poort oopmaak vir hom, en hy moet sy brand-offer of sy ete-offer bring soos op die Sabbatdag. Daarna moet hy uitgaan, en hulle moet die poort sluit nadat hy uitgegaan het.