Esegiël 43:5-15 Bybel vir Almal (ABA)

5. Toe het die Gees my opgetel en my gebring na die binneste oop stuk grond, en hier het die lig wat om die Koning, die Here, is, die tempel volgemaak.

6. Ek het gehoor Iemand praat met my uit die tempel. Die man het nog langs my gestaan.

7. Die Persoon het gesê: “Mens, hier is die plek waar Ek op my troon sal sit en die plek waar Ek my voete sal sit. Ek wil altyd hier woon tussen die Israeliete. Die volk Israel, die mense en hulle konings, sal nie weer ontrou wees aan My nie, hulle sal nie my heilige Naam ontwy nie, hulle sal nie weer die lyke van hulle konings hier kom begrawe nie.

8. Die konings het die drumpel en die raam van die deur van hulle paleis teen my tempel gesit. Daar was net ’n muur tussen hulle en My. Hulle het my heilige Naam onrein laat word met die dinge wat hulle gedoen het, dinge wat Ek haat. Ek het kwaad geword en Ek het hulle laat sterf.

9. Die volk moet nou ophou om ontrou te wees aan My en hulle moet hulle konings se lyke wegvat ver van My. Dan sal Ek altyd tussen hulle woon.

10. Jy, mens, jy moet vir die volk Israel vertel van my tempel, sodat hulle dit kan meet en skaam kan word oor al die verkeerde dinge wat hulle gedoen het.

11. En wanneer hulle skaam is oor alles wat hulle gedoen het, dan moet jy vir hulle sê hoe die tempel moet lyk. Jy moet vir hulle sê waar alles moet wees, waar mense kan uitgaan en inkom. Jy moet ook vir hulle sê wat hulle moet doen en hoe hulle dit moet doen. Jy moet dit skryf en hulle moet dit sien, sodat hulle die tempel so sal bou en alles sal doen wat Ek wil hê.

12. Die wet oor die tempel is: Die boonste punt van die berg en alles daar rondom moet hoog-gewyd wees. Dit is die belangrikste wet oor die tempel.”

13. “Julle moet die altaar meet, maar die el wat julle hier moet gebruik, is een span langer as die gewone el. Die afleivoor by die altaar moet een el diep en een el breed wees, en die rand van die voor moet een span breed wees. Dan moet julle meet hoe hoog die altaar moet wees.

14. Van die afleivoor onder in die grond tot by die onderste rand van die altaar moet dit twee el wees. Die onderste rand moet een el breër wees as die boonste rand, en van die onderste rand tot by die boonste rand moet dit twee el wees. Die altaar moet vier el hoog wees en die boonste rand moet een el breër wees as die vuurmaakplek.

15. Die vuurmaakplek op die altaar moet vier el hoog wees, en die vier horings moet vas wees aan die boonste hoeke.

Esegiël 43