Esegiël 42:2-10 Bybel vir Almal (ABA)

2. Die gebou by die noordekant van die tempel was 100 el lank en 50 el breed.

3. Die gebou was langs die binneste oop stuk grond wat daar 20 el breed was, en langs die oop plek in die buitenste oop stuk grond. Die gebou was op drie terrasse.

4. Daar was gange voor die kamers langs die binnekant, die gange was tien el breed en 100 el lank. ’n Mens kon van die noordekant in die gange kom.

5. Die boonste kamers was kleiner as die ander kamers onder, want die terrasse het boontoe smaller geword.

6. Die kamers was op drie verdiepings, maar hulle het nie op pilare gestaan soos die oop stukke grond nie. Daarom was die boonste kamers kleiner as die middelste kamers en die onderste kamers.

7. Daar was ’n muur buite langs die kamers. Die muur was tot by die buitenste oop stuk grond voor die kamers. Die muur was 50 el lank.

8. Die gebou met die kamers wat langs die buitenste oop stuk grond was, was 50 el lank, maar oorkant die tempel was dit 100 el lank.

9. ’n Mens kon van die buitenste oop stuk grond by die oostekant inkom in die onderste kamers.

10. Daar was ook kamers teen die muur van die buitenste oop stuk grond. Dit was oos van die oop plek en oorkant die ander gebou waarin die kamers was.

Esegiël 42