11. Ja, die Here, Hy wat Here is, sê: “Nou sal Ek self my skape en bokke soek en vir hulle sorg.
12. ’n Herder soek die skape en bokke wat wegraak uit sy trop. So sal Ek my skape en bokke soek en Ek sal hulle red uit al die plekke waarnatoe hulle moes gaan daardie dag toe die donker wolke gekom het.
13. Ek sal hulle uitbring tussen die volke, Ek sal hulle bymekaarmaak uit die ander lande, en Ek sal hulle na hulle eie land bring. Hulle sal wei op die berge van Israel, langs die waterstrome en oral waar daar mense kan woon.
14. Ek sal my skape en bokke laat wei op goeie weiveld. Die hoë berge van Israel sal hulle weiveld wees. My skape en bokke sal wei op die vrugbare weiveld op die berge van Israel.
15. Ek sal self my skape en bokke se herder wees, en Ek sal hulle laat lê en rus nadat hulle genoeg geëet het.”Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.
16. “Ek sal die skape en bokke soek wat weggeraak het. Ek sal die skape en bokke terugbring wat oral rondloop. Ek sal hulle seerplekke toedraai, Ek sal die swak skape en bokke weer sterk laat word, maar Ek sal die vet en die sterk skape en bokke doodmaak. Ek sal reg oordeel wanneer Ek self hulle herder is.”
17. Die Here, Hy wat Here is, sê: “En julle, my eie trop skape en bokke, Ek sal nou die regter wees tussen die verskillende skape en tussen die skaap-ramme en bok-ramme.
18. Julle het op goeie weiveld gewei, maar julle was nie tevrede nie, julle het die weiveld plat getrap wat oorgebly het. Julle het skoon water gedrink en julle het die water vuil gemaak wat oorgebly het.
19. My skape en bokke moes wei op die weiveld wat julle plat getrap het, hulle moes die water drink wat julle vuil gemaak het.”
20. Die Here, Hy wat Here is, sê: “Daarom sal Ek self oordeel tussen die vet skape en bokke en die maer skape en bokke,
21. want die vet skape en bokke het die maer skape en bokke weggestamp met hulle skouers en hulle lywe, hulle het die maer skape en bokke met hulle horings gestoot en weggejaag uit die trop.
22. Ek sal my skape en bokke red. Niemand sal hulle kan vat nie. Ek sal oordeel tussen die verskillende skape en bokke.”
23. “Ek sal een herder kies en aanstel vir my volk, en hy sal vir hulle sorg. Ek sal my dienaar Dawid aanstel. Hy sal vir hulle sorg, hy sal hulle herder wees.
24. Ek, die Here, sal hulle God wees, en my dienaar Dawid sal oor hulle regeer. Ek, die Here, het dit gesê.
25. En Ek sal ’n verbond maak met hulle sodat hulle vrede kan hê, Ek sal die wilde diere in die land doodmaak sodat my skape en bokke veilig kan wees in die weiveld en sodat hulle tussen die bosse kan slaap.
26. Ek sal dit goed laat gaan met hulle en met die land rondom my heuwel. Ek sal die reën op die regte tyd laat val. Die reën sal dit goed laat gaan met hulle.
27. Daar sal vrugte aan die bome wees en daar sal baie koring wees wat die mense kan afsny. My volk sal veilig wees in hulle land. Hulle sal weet dat Ek die Here is wanneer Ek die jukke breek wat op hulle nekke is en wanneer Ek hulle red van die mense wat vir hulle slawe gemaak het.