Esegiël 32:1-13 Bybel vir Almal (ABA)

1. Die Here het met my gepraat. Dit was die twaalfde jaar, in die twaalfde maand, op die eerste dag van die maand. Ek het gehoor die Here sê vir my:

2. “Mens, jy moet ’n klaaglied sing oor die farao, die koning van Egipte. Jy moet vir hom sê:“Jy het gedink jy is ’n leeu tussen die volke,maar Ek het jou stilgemaak.Jy was soos die watermonster,jy het in jou waterstrome rondgetrap,jy het die water vuil en vol moddergemaak met jou pote,jy het die waterstrome vuil gemaak.”

3. Die Here, Hy wat Here is, sê: “Ek sal my vangnet oor jou gooi en Ek sal baie volke bymekaar laat kom. Hulle sal jou vang en optrek in my vangnet

4. en Ek sal jou uitgooi op die grond. Ek sal jou in die oop veld gooi en Ek sal sê al die voëls moet op jou kom sit. Ek sal vir al die diere van die aarde sê hulle moet jou eet totdat hulle vol is.

5. Ek sal jou vleis op die berge neersit en Ek sal die valleie volmaak met die stukke wat oorgebly het van jou.

6. Jou bloed sal op die berge uitvloei, en Ek sal die aarde nat laat word met jou bloed, die waterslote sal vol bloed word.

7. Wanneer Ek jou laat sterf, dan sal Ek die lug toemaak en Ek sal die sterre donker laat word. Ek sal die son met ’n wolk toemaak, en die maan sal nie meer sy lig laat skyn nie.

8. Ek sal al die sterre donker laat word, die sterre wat in die lug skyn, en Ek sal dit donker maak in jou land.”Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.

9. “Ek sal baie volke hartseer en ontsteld maak wanneer Ek jou by die volke stukkend breek in lande wat jy nie ken nie.

10. Ek sal baie volke groot laat skrik oor wat met jou gebeur. Hulle konings sal bewe oor jou wanneer Ek my swaard voor hulle swaai. Hulle almal sal aanhou bewe op die dag wanneer jy sterf.”

11. Ja, die Here, Hy wat Here is, sê: “Die swaard van die koning van Babel sal na jou toe kom.

12. Ek sal jou baie soldate laat doodmaak. Ek sal manne stuur wat goed oorlog kan maak. Hulle almal is wrede mense, hulle sal alles verwoes waarop Egipte trots is, hulle sal al Egipte se soldate doodmaak.

13. Ek sal al die diere van Egipte laat verdwyn, die diere by die baie water. ’n Mens se voet of ’n dier se poot sal nie weer die water vuil maak nie.

Esegiël 32