Esegiël 26:4-9 Bybel vir Almal (ABA)

4. Hulle sal die mure van die stad Tirus verwoes en sy torings afbreek. Ek sal die grond wegkrap waarop die stad staan, net kaal klippe sal oorbly.

5. Tirus sal ’n plek word waar mense hulle visnette droogmaak. Ek het gepraat. Die ander volke sal alles vat wat in Tirus is.”Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.

6. “Vyande sal die mense wat in die dorpe buite Tirus woon, doodmaak in die oorlog. Almal sal weet dat Ek die Here is.”

7. Ja, die Here, Hy wat Here is, sê: “Ek sal nou vir koning Nebukadnesar van Babel bring om Tirus aan te val. Hy is die koning oor al die konings en hy sal kom met perde en oorlogkarre en met manne op perde en baie soldate.

8. Hy sal die mense doodmaak wat woon in die dorpe buite Tirus. Hy sal ’n grondwal bou en hy sal grond gooi teen die muur van die stad. Hy sal skild-dakke tot by die mure bring.

9. Hy sal met ’n stormram teen die mure stamp en hy sal die torings stukkend slaan met ysters.

Esegiël 26