Esegiël 16:51-62 Bybel vir Almal (ABA)

51. Samaria het baie minder sonde gedoen as jy, hulle het minder as die helfte gedoen wat jy gedoen het. Jy het baie meer dinge gedoen wat Ek haat. Jy het baie dinge gedoen wat Ek haat, so baie dinge dat dit gelyk het of jou susters reg lewe.

52. Jy moet baie skaam wees daaroor. Jy het so baie sonde gedoen, so baie dinge wat Ek haat, dat dit lyk of hulle beter gelewe het as jy. Jy moet nou baie skaam word, jy het so baie verkeerde dinge gedoen dat dit lyk of jou susters reg gelewe het.

53. Maar Ek sal dit weer goed laat gaan met Sodom en haar dogters en met Samaria en haar dogters, en Ek sal dit ook goed laat gaan met jou, saam met hulle.

54. Jy sal dan die slegte naam moet dra en jy sal baie skaam moet wees oor alles wat jy gedoen het om dit beter te laat gaan met hulle.

55. Jou suster Sodom en haar dogters sal weer die stad word wat hulle was, Samaria en haar dogters sal weer die stad word wat hulle was, en jy en jou dogters sal weer die stad word wat julle was.

56. Jy het graag gepraat oor jou suster Sodom. Dit was toe jy hoogmoedig was,

57. dit was toe almal nog nie gesien het hoe sleg jy is nie. Die Arameërs en almal wat naby hulle woon, spot nou vir jou, en al die Filistyne wat rondom jou is, lag vir jou.

58. Dit is jou slegte lewe wat jou nou laat swaarkry, al die dinge wat jy gedoen het wat Ek haat.”Dit is wat die Here gesê het.

59. Ja, die Here, Hy wat Here is, sê: “Ek doen met jou wat jy gedoen het. Jy het gemaak of dit nie saak maak dat Ek jou vervloek nie, jy het die verbond gebreek.

60. Maar Ek sal weer dink aan die verbond wat Ek met jou gemaak het toe jy jonk was en Ek sal weer ’n verbond maak met jou, ’n verbond wat altyd sal aanhou.

61. Ek sal jou ouer suster en jou jonger suster neem en Ek sal hulle vir jou gee om jou dogters te wees. Ek het dit nie belowe toe Ek ’n verbond met jou gemaak het nie, maar Ek sal dit doen. Dan sal jy onthou hoe jy gelewe het en jy sal skaam word.

62. Ek sal self weer my verbond maak met jou, en jy sal sê jy weet dat Ek die Here is.

Esegiël 16