Esegiël 13:9-19 Bybel vir Almal (ABA)

9. Die Here het ook gesê: “Ek steek my hand uit en Ek straf die profete wat dinge sien wat Ek nie vir hulle gewys het nie en wat lieg en sê hulle weet dinge wat ander mense nie kan weet nie. Hulle sal nie ’n plek kry waar die mense bymekaar is wat aan My behoort nie, niemand sal hulle name skryf in die boek van Israel nie, en hulle sal nie kom in die land van Israel nie. Julle sal weet dat Ek die Here is.

10. Hulle het my volk verlei toe hulle gesê het daar sal vrede wees en daar toe nie vrede was nie. Die volk het klippe opmekaar gepak om ’n muur te bou, en die profete het die muur met kalk wit geverf. Daarom, net daarom,

11. moet jy praat met die profete wat die muur geverf het wat sal val. Jy moet vir hulle sê: Ek sal dit hard laat reën en dit sal hael, en Ek sal ’n stormwind laat waai.

12. Julle moet dit weet, wanneer die muur val, dan sal mense vir julle vra: ‘Waar is die kalk waarmee julle die muur geverf het?’ Hulle sal dit vra, dit is seker.”

13. Die Here, Hy wat Here is, sê: “Ek is kwaad vir julle omdat julle dit gedoen het. Ek sal stormwinde laat waai en Ek sal dit hard laat reën en Ek sal hael stuur wat alles stukkend slaan.

14. En Ek sal die muur afbreek wat julle geverf het, die klippe sal op die grond lê en mense sal sy fondamente kan sien. Julle sal tussen die klippe sterf. Julle sal weet dat Ek die Here is.

15. Ek sal die muur afbreek en Ek sal die mense wat dit geverf het, aanhou straf totdat Ek nie meer kwaad is nie. Ek sal vir julle sê: Daar is nie meer ’n muur nie, en die mense wat dit geverf het, lewe nie meer nie.

16. Hulle is die profete van Israel wat vir die mense van Jerusalem gesê het dat Ek hulle gestuur het en vir hulle gewys het daar sal vrede wees, maar toe was daar nie vrede nie.”Dit is wat die Here gesê het.

17. Die Here het ook vir my gesê: “Mens, jy moet na die vroue van jou volk kyk wat self besluit het om profete te wees, en jy moet hierdie boodskap van My vir hulle bring.

18. Jy moet sê: Die Here, Hy wat Here is, sê: Vroue, dit sal sleg gaan met julle wat bande om julle voor-arms vaswerk en wat kort of lang sluiers oor mense se koppe sit sodat julle hulle kan toor en laat sterf. Dink julle dat julle mense van my volk kan laat sterf en dat julle self kan aanhou lewe?

19. Julle het my Naam ontwy tussen die mense van my volk, julle het net ’n paar hande vol gars en stukkies brood gekry omdat julle dit gedoen het. Julle het gelieg en julle het mense laat sterf wat nie moes gesterf het nie, maar julle het mense laat aanhou lewe wat nie moes aanhou lewe nie. My volk het geluister na julle leuens.”

Esegiël 13