2. As jy hulle nie laat gaan nie, dan sal Hy jou hele land straf en Hy sal die land vol paddas maak.
3. Die paddas sal baie word in die Nyl-rivier en hulle sal uit die water spring. Hulle sal in jou huis ingaan, in jou slaapkamer en op jou bed. Hulle sal ook in jou amptenare se huise ingaan, tussen die mense, in julle oonde en in julle skottels.
4. Die paddas sal opspring teen jou en teen die mense en teen al jou amptenare.”
5. Die Here het vir Moses gesê hy moet vir Aäron sê: “Hou jou kierie oor al die plekke waar daar water is, sodat daar oral in Egipte paddas kan kom.”
6. Aäron het sy hand oor die water van Egipte gehou. Baie paddas het toe uit die water gekom, so baie dat ’n mens nie die grond in Egipte kon sien nie.
7. Maar die towenaars het dieselfde gedoen, hulle het ook baie paddas oor Egipte laat kom.
8. Die farao roep toe vir Moses en Aäron en hy sê: “Julle moet bid en vir die Here vra Hy moet die paddas wegvat van my en my mense. Dan sal ek die Israeliete laat gaan, sodat hulle vir die Here offers kan bring.”
9. Moses het vir die farao gesê: “Sê jy vir my wanneer ek vir die Here moet vra om die paddas weg te vat van jou en jou amptenare en jou mense, uit almal se huise uit. Dan sal net die paddas in die Nyl-rivier oorbly.”
10. Die farao het gesê: “Môre.”Toe sê Moses: “Dit sal gebeur soos jy sê, sodat jy kan weet daar is nie nóg ’n god soos ons God, die Here, nie.
11. Die paddas sal weggaan van jou en van jou huise en van jou amptenare en van jou mense. Net die paddas in die Nyl-rivier sal oorbly.”
12. Moses en Aäron het van die farao af weggegaan. Moses het gebid en vir die Here gevra dat Hy die paddas moet wegvat wat Hy gestuur het om die farao te straf.
13. Die Here het gedoen wat Moses gevra het. Al die paddas het gevrek, die paddas in die huise, die paddas buite die huise en die paddas in die veld.
14. Die mense het die paddas bymekaargemaak en alles opmekaar gegooi. Die land het gestink.
15. Maar toe die farao sien die paddas is weg, het hy weer hardkoppig geword. Hy het nie na Moses en Aäron geluister nie. Dit het gebeur soos die Here gesê het.
16. Die Here het vir Moses gesê hy moet vir Aäron sê: “Slaan met jou kierie op die grond. Die stof sal dan in muggies verander, en Egipte sal vol muggies wees.”