1. Die Here het vir Moses gesê:
2. “Julle moet elke oudste seun van die Israeliete vir My gee. Die oudste seun van die mense en ook die eerste manlike kleintjie van al die diere behoort aan My.”
3. Moses het vir die volk gesê: “Julle moet altyd hierdie dag onthou, die dag toe julle weggegaan het uit Egipte. Julle was hier slawe, maar die Here het julle met sy groot krag gehelp om weg te gaan van hier. Daarom mag julle in hierdie tyd nie brood eet waarin daar suurdeeg is nie.
4. Julle gaan vandag weg, in die maand Abib.
5. Die Here sal julle bring na die land van die Kanaäniete en die Hetiete en die Amoriete en die Hewiete en die Jebusiete. Hy het vir julle voorvaders belowe dat Hy daardie land vir julle sal gee. Dit is ’n land waar daar baie melk en heuning is. As julle daar kom, dan moet julle elke jaar in hierdie maand die fees vier.
6. Julle moet sewe dae lank ongesuurde brood eet, en op die sewende dag moet julle ’n fees vier om die Here te eer.
7. Julle moet sewe dae lank ongesuurde brood eet en julle mag nie brood by julle hê wat suurdeeg in het nie. Daar mag nie suurdeeg by julle wees nie.
8. Op hierdie dag moet julle vir julle kinders vertel: ‘Ons vier hierdie fees omdat die Here ons gehelp het toe ons weggegaan het uit Egipte.’
9. Die fees moet julle help om te onthou wat die Here vir julle gedoen het. Dit moet wees soos ’n teken op julle hand en tussen julle oë, sodat julle altyd kan onthou en vertel wat die Here vir julle geleer het. Dit is die Here wat julle met sy groot krag gehelp het om uit Egipte weg te gaan.
10. Julle moet elke jaar hierdie tyd die Paasfees vier.