1. Moses het al die Israeliete geroep en vir hulle gesê: “Israeliete, julle moet luister na die wette wat ek vandag vir julle gee, julle kan dit self hier hoor. Julle moet die wette leer en julle moet doen wat die wette sê.
2. Ons God die Here het by Horeb-berg ’n verbond gemaak met ons.
3. Hy het hierdie verbond met óns gemaak, ons almal wat vandag hier lewe, Hy het nie die verbond met ons voorvaders gemaak nie.
4. Die Here self het met julle gepraat uit die vuur op die berg.
5. Ek het daardie dag tussen die Here en julle gestaan om vir julle te sê wat die Here sê, want julle was bang vir die vuur, julle het nie teen die berg opgegaan nie. Die Here het gesê:
6. ‘Ek is jou God die Here. Ek het jou uit Egipte gebring, uit die plek waar jy ’n slaaf was.
7. “ ‘Jy mag nie ander gode aanbid nie. Ek is die enigste God.
10. Maar as iemand lief is vir My en gehoorsaam is aan My, dan sal Ek goed wees vir hom en sy kinders, 1 000 geslagte lank.
11. “ ‘Jy mag die Naam van jou God die Here nie gebruik vir iets wat verkeerd is nie, want die Here sal elkeen straf wat sy Naam gebruik vir iets wat verkeerd is.
12. “ ‘Jy moet onthou dat die Sabbatdag ’n gewyde dag is, jou God die Here het dit vir jou gesê.
13. Jy moet ses dae lank werk en alles doen wat jy moet doen,
14. maar die sewende dag is die Sabbatdag van jou God die Here. Dan mag jy niks werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter, of jou slaaf of jou slavin of jou bees of jou donkie, of jou ander diere, of die vreemdelinge wat by jou woon nie, sodat jou slaaf en slavin ook kan rus, soos jy.
15. Jy moet onthou dat jy ook ’n slaaf was in die land Egipte en dat jou God die Here jou van daar gebring het met sy groot krag. Dit is hoekom jou God die Here sê dat jy die Sabbatdag moet vier.
16. “ ‘Jy moet jou ouers respekteer, die Here het vir jou gesê om dit te doen. Dan sal jy lank lewe en dit sal goed gaan met jou in die land wat jou God die Here vir jou gee.
17. “ ‘Jy mag nie iemand vermoor nie.
18. “ ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.