Deuteronomium 4:35-49 Bybel vir Almal (ABA)

35. Hy het julle dit laat sien sodat julle dít sal weet: Hy, die Here, is God, en daar is nie nog ’n God nie.

36. Die Here het uit die hemel gepraat en julle het sy stem gehoor, Hy het vir julle geleer hoe julle moet lewe. Hy het vir julle sy groot vuur op die aarde gewys en julle het gehoor dat Hy uit die vuur praat.

37. Hy was lief vir julle voorvaders, daarom het Hy hulle nageslag gekies en vir julle uit die land Egipte gebring met sy groot krag. Hy was self by julle

38. en Hy sal ander volke wegjaag voor julle, volke wat groter en sterker is as julle, en Hy sal vir julle die land gee om aan julle te behoort, soos vandag.

39. Daarom moet julle dit vandag weet en onthou: Hy, die Here, is God in die hemel daarbo en op die aarde hier onder, daar is nie nog ’n God nie.

40. En julle moet doen wat God se wette sê, die wette wat ek vandag vir julle gee en wat goed sal wees vir julle en vir julle kinders. Dan sal julle lank bly woon in die land wat julle God die Here vir julle gee, vir altyd.”

41. Moses het in daardie tyd drie stede oos van die Jordaan-rivier gekies.

42. Iemand kon daarnatoe vlug wanneer hy iemand anders per ongeluk doodgemaak het. As hy die ander persoon voorheen nie gehaat het nie, dan kon hy na een van hierdie stede vlug en aanhou lewe.

43. Die stede was: Beser in die woestyn op die Hoëveld vir die mense van die Ruben-stam, Ramot in die land Gilead vir mense van die Gad-stam en Golan in die land Basan vir die mense van die halwe Manasse-stam.

44. Hier is die wette wat Moses vir die Israeliete gegee het.

45. Dit is die wette wat Moses vir die Israeliete gegee het toe hulle uit die land Egipte gekom het.

46. Dit was toe hulle naby die Jordaan-rivier in die vallei oorkant die stad Bet-Peor was, in die land van koning Sihon van die Amoriete wat in die stad Gesbon gewoon het. Moses en die Israeliete het vir koning Sihon oorwin toe hulle uit Egipte gekom het.

47. Hulle het sy land en die land van koning Og van Basan gevat, die land van die twee konings van die Amoriete oos van die Jordaan-rivier.

48. Dit is die land van die stad Aroër langs die kant van die Arnon-vallei tot by Sion-berg, dit is Hermon-berg,

49. en ook die hele Jordaan-vallei oos van die Jordaan-rivier tot by die see in die Jordaan-vallei, by die voet van Pisga-berg.

Deuteronomium 4