Deuteronomium 4:23-37 Bybel vir Almal (ABA)

23. En julle moet versigtig wees dat julle nie die verbond vergeet wat julle God die Here met julle gemaak het nie. Julle moenie dan vir julle ’n beeld maak nie, moenie iets maak wat lyk soos iets anders nie. Die Here het gesê julle mag dit nie doen nie.

24. Ja, julle God die Here is soos ’n vuur wat brand, Hy wil julle net vir Homself hê.

25. Julle sal in daardie land kinders en kleinkinders kry, maar julle moet oppas, julle moenie vir julle ’n beeld maak, iets wat lyk soos enige iets anders nie, want dan doen julle ’n slegte ding. Die Here hou nie daarvan nie, dit maak Hom hartseer.

26. Ek vra die hemel en die aarde om getuies te wees teen julle. As julle vir julle beelde maak, dan sal julle vinnig verdwyn uit die land waarnatoe julle nou gaan. Julle gaan nou deur die Jordaan-rivier om daardie land vir julleself te vat, maar julle sal verdwyn, dit is seker. Julle sal dan nie lank in die land bly nie, julle sal amper almal sterf. Dit is seker.

27. Die Here sal julle na al die kante toe jaag tussen die ander volke, min van julle sal aanhou lewe tussen daardie volke.

28. Julle sal daar moet werk vir gode van hout en klip, gode wat nie kan sien of hoor of eet of ruik nie. Mense het daardie gode gemaak.

29. Julle sal daar soek na julle God die Here, en julle sal Hom kry as julle Hom soek met julle hele hart.

30. Wanneer al hierdie dinge later met julle gebeur en dit gaan sleg met julle, dan sal julle terugkom na julle God die Here en julle sal doen wat Hy sê.

31. Want julle God die Here is ’n God wat goed is vir mense wat swaarkry, Hy sal julle nie los nie, Hy sal julle nie heeltemal laat verdwyn nie. Hy sal nie die verbond vergeet wat Hy met julle voorvaders gemaak het nie.

32. Ja, julle kan vra oor wat lank gelede gebeur het voordat julle gebore was, van die dag toe God mense op die aarde gemaak het. Julle kan oral op die aarde vra of daar so ’n groot ding gebeur het, of mense weet van so iets:

33. Julle het die stem van God gehoor praat uit die vuur. Het ’n ander volk dit ook gehoor en het hulle aangehou lewe? Nee.

34. Of het ’n god tekens, wonderwerke, oorlog en groot krag gebruik en het hy só probeer om vir hom ’n volk te gaan vat by ’n ander volk? Het hy die ander volk laat swaarkry en laat skrik? Dit is wat julle God die Here vir julle in die land Egipte gedoen het, julle het dit self gesien.

35. Hy het julle dit laat sien sodat julle dít sal weet: Hy, die Here, is God, en daar is nie nog ’n God nie.

36. Die Here het uit die hemel gepraat en julle het sy stem gehoor, Hy het vir julle geleer hoe julle moet lewe. Hy het vir julle sy groot vuur op die aarde gewys en julle het gehoor dat Hy uit die vuur praat.

37. Hy was lief vir julle voorvaders, daarom het Hy hulle nageslag gekies en vir julle uit die land Egipte gebring met sy groot krag. Hy was self by julle

Deuteronomium 4