Daniël 8:1-13 Bybel vir Almal (ABA)

1. Ek, Daniël, het weer iets gesien. Dit was in die derde jaar nadat Belsassar koning geword het.

2. Ek het gedroom ek is in Susan, die stad in die provinsie Elam, die stad wat sterk mure het. Ek het gedroom ek is by die Ulai-rivier.

3. Ek het gesien daar staan ’n skaap-ram by die rivier en die skaap-ram het horings. Een horing was langer as die ander horing. Die kort horing het eerste begin groei, en toe het die lang horing begin groei.

4. Ek het gesien die skaap-ram stamp met sy horings na die weste en na die noorde en na die suide. Die diere kon nie voor hom bly staan nie en niemand kon hom keer nie. Die skaap-ram het gedoen wat hy wil, en hy het groot en sterk geword.

5. Ek het gekyk, en toe kom daar ’n bok-ram uit die weste. Hy het baie vinnig oor al die lande gehardloop, hy het nie aan die grond geraak nie. Tussen sy oë was ’n lang horing.

6. Die bok-ram het gekom tot by die ram met die twee horings, die skaap-ram wat ek by die rivier gesien staan het. Die bok-ram het na die skaap-ram toe gehardloop so vinnig soos hy kon.

7. Ek het gesien die bok-ram kom by die skaap-ram en hy stamp die skaap-ram en breek sy twee horings. Die skaap-ram kon nie bly staan nie. Die bok-ram het hom op die grond gegooi en op hom getrap. Niemand kon die bok-ram keer nie.

8. Die bok-ram het baie sterk geword, maar toe hy baie sterk was, het sy groot horing afgebreek. Vier lang horings het uitgekom op die plek waar die groot horing was, een horing na die ooste toe, een na die suide, een na die weste, en een na die noorde.

9. Uit een van hierdie horings het nog ’n horing begin groei. Die horing was eers klein, maar hy het baie groot geword na die suide en na die weste en na die pragtige land toe.

10. Die horing het so sterk geword dat hy die soldate van die hemel aangeval het. Die horing het party van die soldate op die grond laat val en hy het op hulle getrap.

11. Die horing het gedink hy is belangriker as God, die Hoof van die soldate van die hemel. Die horing het vir die priesters gesê hulle moenie elke dag vir God offers bring nie, en hy het die gewyde woonplek van God verwoes.

12. Hy het gesê die priesters moenie die offers bring wat God gevra het nie, hulle moet ander offers bring. Die horing het gedoen wat hy wil.

13. Ek, Daniël, het gehoor ’n heilige engel praat, en hy vra vir ’n ander heilige engel: “Hoe lank sal die dinge aanhou gebeur wat Daniël gesien het? Wanneer sal die mense weer elke dag mag offers bring? Wanneer sal hierdie groot en verskriklike sonde ophou? Hoe lank sal hulle nog met die gewyde tempel maak wat hulle wil? Hoe lank sal hulle nog trap op die soldate van die hemel?”

Daniël 8