13. Hulle het vir Daniël na die koning toe gebring. Die koning het vir Daniël gesê: “Is jy Daniël, een van die mense wat koning Nebukadnesar weggevat het uit die land Juda en hiernatoe gebring het?
14. Ek het gehoor die gode help jou en jy is baie slim.
15. Ek het die wyse en slim mense laat kom om te lees wat daar op die muur geskryf is en om te sê wat dit beteken. Maar hulle kon dit nie doen nie.
16. Toe het ek gehoor jy kan sê wat dinge beteken en jy kan probleme oplos. As jy nou kan lees wat daar geskryf is en kan sê wat dit beteken, dan sal ek vir jou klere aantrek wat lyk soos ’n koning se klere: pers klere en ’n goue ketting om jou nek. Jy sal ook die derde belangrikste man in die land word.”
17. Toe het Daniël vir die koning gesê: “Koning, jy kan die presente hou of jy kan dit vir iemand anders gee. Maar ek sal lees wat daar geskryf is en ek sal vir jou sê wat dit beteken.
18. “Nebukadnesar was koning voor jou. Jy weet dat die Hoogste God hom ’n groot en belangrike koning gemaak het.
19. Daarom was die mense van al die volke bang vir Nebukadnesar, want hy kon almal doodmaak wat hy wou doodmaak. Hy kon ook almal laat lewe wat hy wou laat lewe. Hy kon mense belangrik maak of hy kon hulle verneder.