2 Timoteus 2:19-26 Bybel vir Almal (ABA)

19. Maar God het ’n fondament gebou wat vas staan. Daar is op die fondament geskryf: Die Here ken die mense wat aan Hom behoort en Elkeen wat die Naam van die Here gebruik en tot Hom bid, moet ophou om verkeerde dinge te doen.

20. In ’n groot huis is daar borde en bakke van goud en silwer, maar daar is ook dinge van hout en klei. ’n Mens gebruik party dinge wanneer daar ’n spesiale fees is, en ’n mens gebruik party dinge elke dag.

21. ’n Mens moet jouself reinig van al die verkeerde dinge, jy moet wegbly van die verkeerde dinge. Dan sal jy wees soos ’n spesiale bord of bak. Jy sal dan gewy wees, en jou Eienaar sal jou goed kan gebruik, want jy sal dan enige iets kan doen wat goed is.

22. Daarom, jy moet wegvlug van die verkeerde dinge wat jongmense graag wil doen. Jy moet aanhou probeer om te doen wat reg is, jy moet in Christus glo, jy moet lief wees vir mense en jy moet in vrede lewe met ander mense. Jy moet dit doen saam met die mense wat net die Here dien.

23. Jy moenie soos party ander mense stry oor dwase dinge nie. Die mense wat nog niks geleer het nie, doen dit. Jy weet dat hierdie dinge mense laat baklei.

24. ’n Dienaar van die Here moenie twis met ander mense nie, hy moet vriendelik wees met almal. Die dienaar moet vir ander mense kan leer en hy moet geduldig wees, ook wanneer hy swaarkry.

25. As mense vir die gelowiges ander dinge leer as wat die dienaar van die Here vir hulle leer, dan moet die dienaar vir hulle sê dat hulle verkeerd is, maar hy moet dit mooi vir hulle sê. Miskien sal God hulle harte verander sodat hulle sal lewe soos Hy wil hê en sodat hulle die waarheid sal leer ken.

26. Die duiwel het hierdie mense gevang om te doen wat hy wil hê. Miskien sal hulle weer reg kan dink en kan loskom uit die duiwel se vangstrik.

2 Timoteus 2