2 Samuel 13:1-11 Bybel vir Almal (ABA)

1. Later het daar iets gebeur. Dawid se seun Absalom het ’n mooi suster gehad, haar naam was Tamar. Amnon, ’n ander seun van Dawid, was verlief op Tamar.

2. Amnon was so verlief op sy half-suster Tamar dat hy siek gevoel het, want sy was nog ’n jongmeisie en hy het nie geweet hoe hy alleen by haar kon kom nie.

3. Maar Amnon het ’n vriend gehad, sy naam was Jonadab. Jonadab was die seun van Dawid se broer Sima. Jonadab was ’n baie slim man.

4. Hy het vir Amnon gevra: “Jy is ’n prins. Hoekom lyk jy elke dag soos ’n man wat swaarkry? Vertel vir my.”Toe sê Amnon vir Jonadab: “Ek is verlief op Tamar, my broer Absalom se suster.”

5. Jonadab sê toe vir Amnon: “Jy moet op jou bed gaan lê en maak of jy siek is. Wanneer jou pa kom kyk hoe dit met jou gaan, dan moet jy vir hom vra: ‘Laat my suster Tamar asseblief kom, sy moet hier vir my iets gaarmaak en sy moet dit vir my gee om te eet.’ ”

6. Amnon het toe op sy bed gaan lê en hy het gemaak of hy siek is.Toe die koning kom kyk hoe dit met hom gaan, het hy vir die koning gevra: “Laat my suster Tamar asseblief kom, sy moet hier vir my twee broodjies bak en sy moet dit vir my gee om te eet.”

7. Die koning het toe vir Tamar in haar huis laat weet: “Gaan asseblief na jou broer Amnon se huis en maak vir hom iets om te eet.”

8. Tamar het na haar broer Amnon se huis gegaan. Hy was in die bed. Sy het deeg geneem en sy het dit geknie en sy het daar by hom broodjies gebak.

9. Toe het sy die pan geneem en sy het die broodjies voor hom uitgehaal. Maar hy wou dit nie eet nie. Hy het gesê almal moet uitgaan, en hulle het almal gegaan.

10. Toe sê hy vir Tamar: “Bring die kos na my kamer en gee dit daar vir my.”Tamar het die broodjies geneem wat sy gebak het en sy het dit vir haar broer Amnon in die kamer gebring.

11. Maar toe sy dit nader bring sodat hy dit kon eet, gryp hy haar en sê vir haar: “My suster, kom lê by my.”

2 Samuel 13