3. Hierdie vals leermeesters wil altyd meer en meer goed hê vir hulleself, daarom sal hulle verkeerde stories vir julle vertel om julle te bedrieg. Maar God het lank gelede klaar besluit om hulle te straf, en Hy sal dit doen, Hy sal hulle verlore laat gaan.
4. God sal hulle straf. Hy was voorheen nie jammer vir die engele wat sonde gedoen het nie. Nee, Hy het hulle in die onderwêreld gegooi. Hy het hulle met kettings in die donker vasgebind en Hy het hulle gelos om daar gevangenes te bly totdat die oordeelsdag kom.
5. God was ook lank gelede nie jammer vir die sondige wêreld nie toe Hy die watervloed oor die wêreld van die sondaars laat kom het. Maar Noag het in daardie tyd die boodskap gebring dat mense reg moet lewe voor God, en God het vir Noag gered. God het ook sewe ander mense saam met Noag gered uit die watervloed.
6. God het ook die stede Sodom en Gomorra gestraf en Hy het hulle verbrand en verwoes. Hy het dit gedoen om die ander mense te waarsku dat Hy sondaars sal straf.
7. Maar God het vir Lot gered. Lot het reg gelewe en hy was baie geskok oor die lewe van die mense wat nie gehoorsaam was aan die wette van God nie, daardie mense het gedoen wat hulle wil.
8. Want Lot het reg gelewe, maar hy het gewoon by die mense wat nie gehoorsaam was aan die wette van God nie, en hy het elke dag gesien en gehoor wat hulle gedoen het. Die dinge wat hulle gedoen het, het elke dag vir Lot baie geskok, want Lot het reg gelewe.
9. Maar die Here weet dat Hy die mense sal red wat Hom dien, Hy sal hulle red wanneer hulle baie swaar kry, en Hy sal die mense wat verkeerd lewe, aanhou straf totdat die oordeelsdag kom.
10. Vir wie sal die Here die meeste straf? Hy sal die mense straf wat graag dinge wil doen wat ’n skande is en wat hulleself vuil van die sonde laat word. Hulle dink die Here wat regeer, is nie belangrik nie.Hierdie vals leermeesters praat verkeerd, maar hulle is nie bekommerd daaroor nie. Hulle dink hulle is beter as ander mense. Daarom is hulle nie bang om slegte dinge te sê oor die engele nie.
11. Maar die Here se engele is sterker en hulle het meer krag as die vals leermeesters. Die Here se engele beskuldig nie die ander engele nie.
12. En hierdie vals leermeesters is soos diere wat nie verstand het nie, diere wat gebore is sodat mense hulle kan vang en doodmaak. Daarom praat die vals leermeesters sleg oor dinge wat hulle nie verstaan nie. Die Here sal hulle ook doodmaak soos die mense wilde diere doodmaak.
13. Hulle sal swaarkry, dit is die straf vir die slegte dinge wat hulle doen. Hulle geniet dit om ook in die dag fees te vier en om te veel te eet en te drink. Hulle is soos vuil kolle op klere. Terwyl hulle saam met julle feesvier, hou hulle aan om mense te bedrieg, en so bring hulle skande oor julle.
14. Hulle soek altyd vroue wat seks wil hê met hulle, hulle wil altyd meer en meer sonde doen. Party mense se geloof is nie sterk nie, die vals leermeesters wil daardie mense verlei. Hulle wil altyd meer en meer dinge hê. Die Here sal hulle vervloek.
15. Die vals leermeesters doen hierdie dinge omdat hulle opgehou het om te lewe soos die Here wil hê. Hulle het gedoen wat Bileam seun van Bosor gedoen het. Bileam was baie lief vir geld en daarom het hy verkeerde dinge gedoen om die beloning te kry.
16. Maar die Here het gesê Bileam doen iets wat verkeerd is. ’n Donkie het vir Bileam die profeet gekeer sodat hy nie ’n dom ding gedoen het nie. ’n Donkie is ’n dier wat nie kan praat nie, maar hierdie donkie het met Bileam gepraat soos ’n mens praat.