2 Kronieke 6:30-40 Bybel vir Almal (ABA)

30. Luister dan asseblief in u woonplek, die hemel, en vergewe sy sonde en help hom. Gee vir elkeen wat hy moet kry, want net U weet hoe ’n mens se hart regtig is.

31. Dan sal hulle altyd gehoorsaam wees aan U terwyl hulle in die land woon wat U vir hulle voorvaders gegee het.

32. “Maar U moet ook luister na iemand wat nie van u volk Israel is nie en wat van ’n ver land kom omdat hy u Naam gehoor het. As hy gehoor het van u groot Naam en van die groot dinge wat U gedoen het, en hy kom en hy kyk na hierdie tempel en hy bid,

33. dan moet U luister in die hemel waar U woon en U moet alles doen wat hy vir U in sy gebed vra, sodat elke volk op die aarde u Naam kan ken en gehoorsaam kan wees aan U, soos u volk Israel. Doen dit sodat hulle kan weet dat hierdie tempel aan U behoort, hierdie tempel wat ek gebou het.

34. “U volk sal miskien oorlog gaan maak teen vyande omdat U gesê het hulle moet dit doen. As hulle kyk na hierdie stad wat U gekies het en na hierdie tempel wat ek gebou het om U te dien, en as hulle bid en soebat,

35. dan moet U asseblief in die hemel luister na hulle gebed en U moet hulle laat wen teen hulle vyande.

36. “Al die mense doen sonde. U volk doen ook sonde teen U, en dan word U kwaad en U gee hulle vir hulle vyande sodat die vyande hulle kan vang en wegvat na die vyande se land, ver of naby.

37. Maar u volk sal miskien hulle lewe verander daar in die land waar hulle gevangenes is en hulle sal weer na U toe kom en tot U bid in daardie land en sê: ‘Ons het sonde gedoen, ons het verkeerde dinge gedoen, ons is skuldig.’

38. As hulle met hulle hele hart en lewe na U toe kom in die land van hulle vyande waar hulle gevangenes is en as hulle kyk na hierdie land wat U vir hulle voorvaders gegee het, en na die stad wat U gekies het, en na die tempel wat ek gebou het om U te dien, en as hulle bid tot U,

39. dan moet U asseblief luister in u woonplek, die hemel. U moet luister na hulle gebed en U moenie aanhou om hulle te straf nie. U moet asseblief u volk vergewe wat sonde gedoen het teen U.

40. “Nou, my God, U moet asseblief sorg vir hierdie plek en U moet luister wanneer iemand in hierdie plek bid.

2 Kronieke 6