2 Korintiërs 5:4-16 Bybel vir Almal (ABA)

4. Ja, ons wat nog in die aardse tent woon, sug. Ons kry swaar, want ons is bang om weg te gaan uit die aardse tent. Ons wil die hemelse gebou bo-oor die tent sit sodat ons hemelse lewe dadelik sal kom in die plek van ons aardse lewe.

5. Dit is God wat ons gereedgemaak het om dadelik te verander. Hy het sy Gees vir ons gegee, en so weet ons dat God vir ons alles sal gee wat Hy vir ons belowe het.

6. Maar ons glo en vertrou altyd. Ons weet dat ons nog nie by die Here woon terwyl ons in ons liggame woon nie.

7. Ons moet glo terwyl ons hier op die aarde lewe. Ons sien nog nie alles soos dit sal wees nie.

8. Maar ons glo en vertrou en ons verlang daarna om nie meer in ons liggame te woon nie, ons verlang om by die Here te woon.

9. Daarom probeer ons om só te lewe dat die Here tevrede sal wees met ons terwyl ons in ons liggame woon en ook wanneer ons nie meer in ons liggame woon nie.

10. Want Christus sal ons almal eendag oordeel wanneer ons voor sy regterstoel staan. Dan sal elke persoon kry wat hy moet kry. As iemand goeie dinge gedoen het terwyl hy hier op die aarde gelewe het, dan sal hy goeie dinge kry. As iemand slegte dinge gedoen het, dan sal hy slegte dinge kry.

11. Ons weet wat dit is om die Here te dien en om te doen wat Hy sê. Daarom probeer ons om mense te bemoedig sodat hulle ook sal verander en die Here sal dien. God weet alles van my en van die ander persone wat saam met my werk. Hy weet dat ons Hom eerlik dien. Maar ek hoop dat julle ook so dink oor ons.

12. Ons probeer om nie weer te sê wie ons is en hoekom julle ons kan glo nie. Nee, ons wil hê dat julle trots moet wees op ons. Dan het julle iets om vir die mense te sê, die mense wat dink dat dit belangrik is hoe ’n mens van buite lyk, die mense wat dink dat dit nie belangrik is hoe ’n mens in sy hart is nie.

13. As ons dinge gedoen het wat mense gewoonlik nie doen nie, as mense miskien gedink het ons is mal, dan moet julle weet dat ons daardie dinge vir God gedoen het. Maar as ons dinge gedoen het wat verstandig is, dan het ons dit vir julle gedoen.

14. Ons bring hierdie boodskap oor Christus omdat Christus lief is vir ons. Ons móét hierdie boodskap bring. Almal moes gesterf het, maar een Mens het gesterf. Hy het dit vir almal gedoen, en daarom het hulle almal gesterf.

15. Ja, Christus het vir almal gesterf. Daarom moet die mense wat nou ’n nuwe lewe het, nie meer lewe vir hulleself nie. Nee, hulle moet lewe vir Christus, want Christus het vir hulle gesterf, en God het Hom weer laat lewe. Christus het dit gedoen vir die mense wat nou ’n nuwe lewe het.

16. Daarom, van nou af dink ons nie meer soos ongelowiges oor mense nie. Ons het miskien voorheen oor Christus gedink soos mense wat ongelowig is, maar nou doen ons dit nie meer nie.

2 Korintiërs 5