2 Konings 9:20-26 Bybel vir Almal (ABA)

20. Die wag het geskree: “Die boodskapper het tot by hulle gekom, maar hy kom ook nie terug nie. Dit lyk of dit Jehu is wat op die oorlogkar ry, want hy jaag soos ’n mal mens.”

21. Joram sê toe hulle moet sy oorlogkar inspan. Hulle het dit gedoen, en hy en koning Ahasia van Juda het elkeen op sy eie oorlogkar gery om vir Jehu te gaan ontmoet. Hulle het hom gekry op die grond van Nabot van Jisreël.

22. Toe Joram sien dit is Jehu, vra hy: “Jehu, is daar ’n probleem?”Jehu het geantwoord: “Die probleem is dat jou ma Isebel vir die mense leer om afgode te dien en om te toor.”

23. Joram het omgedraai met sy wa en hy het vir Ahasia geskree: “Hulle het ons verraai!”

24. Maar Jehu het sy boog se snaar styfgetrek en hy het vir Joram bo in sy rug geskiet. Die pyl het deur Joram se hart gegaan en hy het op die wa dood neergeval.

25. Jehu het vir sy offisier Bidkar gesê: “Vat hom en gooi hom op die grond van Nabot van Jisreël. Onthou jy dat ek en jy agter sy pa Agab gery het toe die Here gesê het dit sal gebeur?

26. Die Here het gesê: ‘Ek het gisteraand die bloed van Nabot en sy seuns gesien, en Ek belowe Ek sal jou op hierdie selfde grond daaroor straf.’ ”Jehu sê toe: “Vat hom en gooi hom op die grond, soos die Here gesê het.”

2 Konings 9