6. Al die ander dinge wat Ussia gedoen het, is geskryf in die dagboeke van die konings van Juda.
7. Hy het gesterf, en sy mense het hom begrawe by sy voorvaders in die Dawidstad. Sy seun Jotam het koning geword ná hom.
8. Sagaria seun van Jerobeam het in Samaria koning geword oor Israel in die ag-en-dertigste jaar nadat Ussia koning van Juda geword het. Sagaria was ses maande lank koning.
9. Hy het dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie, hy het gedoen soos sy voorvaders. Hy het aangehou om die sondes te doen wat Jerobeam seun van Nebat gedoen het en wat hy die mense van Israel laat doen het.
10. Sallum seun van Jabes het planne gemaak teen Sagaria en hy het Sagaria aangeval waar al die mense dit kon sien. Sallum het hom doodgemaak en hy het koning geword in Sagaria se plek.
11. Al die ander dinge wat Sagaria gedoen het, is geskryf in die dagboeke van die konings van Israel.
12. Dit het gebeur soos die Here vir Jehu gesê het: “Jou nageslag sal tot in die vierde geslag op die troon van Israel sit.”*
13. Sallum seun van Jabes het koning geword in die nege-en-dertigste jaar nadat Ussia koning van Juda geword het. Sallum was een maand lank koning in Samaria.
14. Menahem seun van Gadi het van die stad Tirsa na Samaria gekom. Hy het vir Sallum daar aangeval en doodgemaak. Menahem het koning geword in Sallum se plek.
15. Al die ander dinge wat Sallum gedoen het en sy planne teen koning Sagaria is geskryf in die dagboeke van die konings van Israel.
16. Sallum was koning toe Menahem die stad Tifsag oorwin het. Hy het almal in die stad en naby die stad doodgemaak. Hy het van Tirsa gekom, en die leiers van Tifsag wou nie die poorte van die stad oopmaak vir hom nie. Hy het al die vroue in die stad wat babas verwag het, oopgesny.
17. Menahem seun van Gadi het koning van Israel geword in die nege-en-dertigste jaar nadat Ussia koning van Juda geword het. Menahem was tien jaar lank koning in Samaria.
18. Hy het dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie. Hy het sy hele lewe lank aangehou om die sondes te doen wat Jerobeam seun van Nebat gedoen het en wat hy die mense van Israel laat doen het.