1 Samuel 15:16-34 Bybel vir Almal (ABA)

16. Samuel sê toe vir Saul: “Bly stil. Ek sal vir jou sê wat die Here gisteraand vir my gesê het.”Saul het gesê: “Goed, ek luister.”

17. Toe sê Samuel: “Jy het gesê jy is nie ’n belangrike man nie, maar jy is nou die hoof van die stamme van Israel. Die Here het jou gesalf en Hy het jou koning oor Israel gemaak.

18. Die Here het jou gestuur en Hy het gesê jy moet die sondaars, die Amalekiete, gaan doodmaak, jy moet teen hulle gaan oorlog maak totdat jy hulle almal doodgemaak het.

19. Hoekom het jy nie gedoen wat die Here vir jou gesê het nie? En hoekom het jy so vinnig hulle goed gaan vat en iets gaan doen waarvan die Here nie hou nie?”

20. Saul het vir Samuel gesê: “Maar ek hét gedoen wat die Here gesê het, ek hét gegaan toe Hy my gestuur het. Ek het vir Agag, die koning van die Amalekiete, hiernatoe gebring, maar ek het al die Amalekiete doodgemaak.

21. En die manne het van die skape en bokke en beeste gevat om hulle vir jou God die Here hier in Gilgal te offer. Dit is die beste van die diere wat gewy was en wat hulle moes doodmaak.”

22. Samuel het gesê:“Wat dink jy is vir die Heredie belangrikste:Dat jy brand-offers vir Hommoet bring,of dat jy doen wat Hy vir jou sê?Jy moet dit weet:Dit is beter om gehoorsaamte wees as om te offer,dit is beter om te luisterna Hom as om die vetvan ramme te offer.

23. Want iemand wat opstandig is,doen ook sondesoos waarsêers sonde doen.En iemand wat ongehoorsaam is,doen ook sonde soos mensewat afgodsbeeldjies het.”“Jy het nie gedoen wat die Here vir jou gesê het nie, daarom het Hy besluit dat jy nie meer koning sal wees nie.”

24. Saul het vir Samuel gesê: “Ek het sonde gedoen, ek het nie gedoen wat die Here en jy vir my gesê het nie. Ek was bang vir die manne en ek het gedoen wat hulle gevra het.

25. Maar nou vra ek: Jy moet asseblief my sonde vergewe en saam met my teruggaan, sodat ek tot die Here kan bid.”

26. Maar Samuel het vir Saul gesê: “Ek sal nie saam met jou teruggaan nie, want jy het nie gedoen wat die Here vir jou gesê het nie, en die Here sal jou nie meer koning laat wees nie.”

27. Samuel het omgedraai om te gaan, maar Saul het aan Samuel se bo-kleed vasgehou, en die bo-kleed het geskeur.

28. Toe sê Samuel vir Saul: “Jy was koning oor die Israeliete, maar vandag het die Here dit van jou afgeskeur en weggeneem en Hy het dit gegee vir iemand wat beter is as jy.

29. En ook, die Ewige God van Israel is nie vals nie en Hy verander nie sy besluite nie, want Hy is nie soos ’n mens wat sy besluite verander nie.”

30. Toe sê Saul: “Ek het sonde gedoen, maar jy moet my asseblief respekteer voor die offisiere en voor die Israeliete. Jy moet saam met my teruggaan, sodat ek tot die Here kan bid.”

31. Samuel het toe saam met Saul teruggegaan, en Saul het tot die Here gebid.

32. Daarna het Samuel gesê: “Julle moet vir Agag, die koning van die Amalekiete, na my toe bring.”Agag het na Samuel toe gekom. Agag was nie bekommerd nie. Hy het gesê: “Ek is seker hulle sal my nie doodmaak nie, ek is nie meer bang nie.”

33. Maar Samuel het gesê: “Jy het vroue se kinders doodgemaak, en daarom sal jou ma ook nie meer ’n kind hê nie.”Samuel het toe vir Agag in stukke gekap daar by die tempel.

34. Samuel het daarna na die stad Rama gegaan, en Saul het na sy huis gegaan in die stad Gibea-van-Saul.

1 Samuel 15