14. Maar nou sal jy nie lank koning wees nie. Die Here het vir Hom ’n man gesoek van wie Hy hou. Die Here het gesê daardie man sal koning word oor sy volk, want jy het nie gedoen wat die Here gesê het nie.”
15. Samuel het toe opgestaan en hy het weggegaan van Gilgal. Hy het na die stad Gibea in die land Benjamin gegaan. Saul het die manne getel wat by hom was. Daar was omtrent 600 manne.
16. Hy en sy seun Jonatan en die manne by hulle het in Gibea in die land Benjamin gebly. Die Filistyne se tente was in Mikmas.
17. Drie groepe Filistyne het uit hulle kamp gekom om alles te vat wat hulle kon kry. Een groep het met die Ofra-pad na die distrik Sual gegaan,
18. een groep het met die Bet-Goron-pad gegaan, en een groep het gegaan na die plekke bokant die Seboïm-vallei naby die woestyn.
19. In die hele land Israel was daar nie een ambagsman nie, want die Filistyne het gesê: “As hier ambagsmanne is, dan sal die Hebreërs swaarde en spiese laat maak.”
20. Al die Israeliete moes na die Filistyne toe gaan om hulle ploeg-ysters en pikke en byle te laat skerpmaak.
21. Hulle moes vir die Filistyne een derde sikkel silwer gee vir elke ploeg-yster en pik en vurk en byl wat hulle skerpgemaak het, ook vir die punte van die stokke waarmee hulle die beeste aangejaag het.
22. Daarom het nie een van die manne by Saul en Jonatan ’n swaard of ’n spies gehad toe die oorlog begin het nie. Net Saul en sy seun Jonatan het ’n swaard en ’n spies gehad.
23. ’n Groep Filistyne het na die bergpas by die stad Mikmas gegaan.