1. Saul was ’n jong man toe hy koning geword het en hy het twee jaar lank oor die Israeliete regeer.
2. Hy het drie groepe manne gekies uit die Israeliete. Twee groepe was by Saul by die stad Mikmas en op die berg by Bet-El, en een groep was by Jonatan by die stad Gibea in die land Benjamin. Saul het die ander manne laat teruggaan na hulle huise.
3. Jonatan het die Filistyne oorwin wat by die stad Geba moes wagstaan, en die ander Filistyne het gehoor wat gebeur het. Saul het toe gesê sy manne moet ramshorings blaas oral in die land en hulle moet vir die Hebreërs sê dat hulle moet luister.
4. Al die Israeliete het gehoor dat Saul die Filistyne oorwin het wat waggestaan het. Hulle het ook gehoor dat die Filistyne nou baie kwaad is vir die Israeliete. Daarom het Saul gesê die manne moet bymekaarkom by die stad Gilgal.
5. Die Filistyne het ook bymekaargekom om oorlog te maak teen die Israeliete. Hulle het 1 000 oorlogkarre en 6 000 manne op perde gehad en nog baie ander manne, so baie soos die sand langs die see. Hulle het gekom en hulle het hulle tente opgeslaan by die stad Mikmas naby Bet-Awen.
6. Die Israeliete het besef dat hulle probleme het. Daarom het hulle weggekruip in grotte en tussen doringbosse en rotse, en in plekke onder die grond en in gate.
7. Party Hebreërs het oor die Jordaan-rivier gegaan na die land Gad en die land Gilead. Saul was nog in Gilgal, en al die manne by hom was baie bang.
8. Samuel het gesê Saul moet sewe dae vir hom wag, en Saul het dit gedoen. Maar Samuel het nie na Gilgal gekom nie. Toe Saul se manne begin wegloop,
9. het hy gesê: “Bring vir my die brand-offer en die ete-offers.” Saul offer toe self die brand-offer.
10. En toe hy klaar die brand-offer ge-offer het, het Samuel daar aangekom. Saul het gegaan om hom te ontmoet en te groet.
11. Samuel het gevra: “Wat het jy gedoen?”Saul het gesê: “Jy het gesê ek moet sewe dae vir jou wag, maar jy het nie gekom nie. Ek het gesien die manne begin wegloop. Die Filistyne is bymekaar in Mikmas,
12. en ek het gedink hulle sal hier na Gilgal kom voordat ek vir die Here ’n offer gebring het en vir Hom gevra het om te help. Ek het toe self die brand-offer ge-offer.”
13. Samuel het vir Saul gesê: “Jy het ’n verkeerde ding gedoen, jy het nie gedoen wat jou God die Here gesê het nie. As jy gehoorsaam was, dan sou die Here jou lank laat regeer het oor die Israeliete.