1 Kronieke 28:4-9 Bybel vir Almal (ABA)

4. Die Here, die God van Israel, het vir my uit my hele familie gekies om koning van Israel te wees so lank soos ek lewe. Hy het die Juda-stam gekies om die belangrikste stam te wees. Van die Juda-stam het Hy mý familie gekies, en van my pa se seuns het Hy vir mý gekies om koning te wees oor die hele Israel.

5. Die Here het baie seuns vir my gegee, en van daardie seuns het Hy my seun Salomo gekies om op die troon te sit, die troon wat behoort aan die Here, die Koning van Israel.

6. Die Here het vir my gesê: ‘Jou seun Salomo, hý sal vir My die tempel bou met sy oop stukke grond, want Ek het hóm gekies om ’n seun te wees vir My, en Ek sal ’n Vader wees vir hom.

7. Salomo doen nou wat Ek wil hê en wat Ek besluit. As hy aanhou om dit te doen, dan sal Ek hom koning laat wees so lank soos hy lewe.’

8. Julle moet nou vir my iets belowe, hier waar die hele Israel, die volksvergadering van die Here, dit sien, hier waar ons God dit hoor. Julle moet belowe dat julle sal aanhou om alles te doen wat julle God die Here wil hê. As julle dit doen, dan sal hierdie goeie land julle land wees en julle kinders sal die land ná julle erf, vir altyd.

9. En jý, my seun Salomo, jy moet die God van jou pa ken en jy moet Hom dien met jou hele hart. Jy moet dit geniet om dit te doen, want die Here weet wat elke mens dink, Hy ken elke gedagte van ’n mens. As jy die Here soek, dan sal Hy jou help om Hom te kry, maar as jy weggaan van Hom, dan sal Hy jou vir altyd los.

1 Kronieke 28