1 Kronieke 17:13-22 Bybel vir Almal (ABA)

13. Ek sal vir hom wees soos ’n pa, en hy sal vir My wees soos ’n seun. Ek sal aanhou om vir hom te doen wat Ek belowe het. Ek het dit nie gedoen vir die man wat vóór jou koning was nie.

14. Die koning uit jou nageslag sal altyd ’n plek hê in my tempel en daar waar Ek Koning is. Iemand van jou nageslag sal altyd koning wees.”

15. Natan het vir Dawid alles gesê wat die Here vir hom gesê en gewys het.

16. Koning Dawid het ingegaan in die tempel-tent en hy het voor die verbondskis gaan lê. Hy het gesê: “Here God, ek en my familie is nie belangrik nie. Hoekom het U so baie vir my gedoen?

17. “En, o God, U het nog meer gedoen. U het ook nog gepraat oor u dienaar se koningshuis wat nog baie lank sal regeer. Here God, U praat met my soos met ’n baie belangrike mens.

18. Wat kan ek, Dawid, nog vir U sê, vir U wat u dienaar so belangrik laat voel? Here, U ken u dienaar.

19. U het besluit om dit vir u dienaar te doen en U het hierdie groot ding gedoen om vir u dienaar hierdie wonderlike dinge te sê.

20. Here, daar is niemand soos U nie. U alleen is God, ons weet nie van ’n ander God nie.

21. En wie is soos u volk Israel? U het net vir húlle gekies uit al die volke op die aarde en U het hulle vrygemaak om u volk te wees. U het groot en wonderlike dinge gedoen toe U ander volke weggejaag het sodat u volk in die land kan woon, u volk wat U vrygemaak het uit Egipte. Daarom ken almal u Naam.

22. U het u volk Israel ’n volk gemaak wat nog lank daar sal wees, want U, Here, het hulle God geword.

1 Kronieke 17