1 Korintiërs 12:24-31 Bybel vir Almal (ABA)

24. Maar daar is dele waarvoor ons nie skaam is nie, ons maak dit nie toe met mooi klere nie. Daar is dele van die liggaam wat vir ons minder belangrik lyk, maar God het die liggaam so gemaak dat daardie dele belangriker is.

25. En daarom baklei die liggaam nie met homself nie, want die dele sorg vir mekaar.

26. Wanneer een deel swaarkry, dan kry al die dele saam swaar. En wanneer die mense een deel prys, dan is al die dele saam bly.

27. Julle is almal saam die liggaam van Christus, en julle is ook elkeen ’n deel van hierdie liggaam.

28. God gee vir elkeen sy plek in die gemeente. Eerste is daar die apostels, tweede is daar die profete, derde is daar die mense wat vir ander mense leer, dan die mense wat wonderwerke doen, dan die mense wat die genadegawes het om mense gesond te maak, die mense wat vir ander mense help, die mense wat leiers in die gemeente kan wees, en die mense wat in tale praat.

29. Almal is nie apostels nie. Almal is nie profete nie. Almal kan nie vir ander mense leer nie. Almal kan nie wonderwerke doen nie.

30. Almal het nie die genadegawe om ander mense gesond te maak nie. Almal praat nie in tale nie. Almal kan nie tolk wat die mense sê wat in tale praat nie.

31. Maar julle moet bid en hard werk om daardie genadegawes te kry wat vir die gemeente die meeste kan help. En dan wys ek vir julle wat die beste ding is om te doen, die beste pad.

1 Korintiërs 12