1 Korintiërs 1:1-20 Bybel vir Almal (ABA)

1. God het besluit om vir my, Paulus, te kies om ’n apostel van Christus Jesus te wees. Ek en Sostenes, wat ook ’n gelowige is,

2. skryf nou hierdie brief vir julle, die gemeente van God daar in Korinte.God het julle aan Hom gewy en julle glo in Christus Jesus. Ja, God het julle gekies om aan Hom te behoort. Ons skryf ook vir almal wat ons Here Jesus Christus aanbid, dit maak nie saak waar hulle woon nie. Jesus is hulle Here én ons Here.

3. Ons bid dat God ons Vader en die Here Jesus Christus genadig sal wees vir julle en dat Hy vir julle vrede sal gee.

4. Ek sê altyd vir my God dankie wanneer ek aan julle dink. Ek sê dankie, want God is baie genadig vir julle omdat julle in Christus Jesus glo.

5. Ja, God het julle baie geseën omdat julle aan Christus Jesus behoort. Julle verstaan die goeie boodskap van Christus Jesus en julle verduidelik dit ook goed vir mekaar.

6. Julle kan dit doen omdat julle die boodskap vas glo wat die apostels vir julle gebring het.

7. Julle het al die genadegawes ontvang wat die Here vir julle gegee het. En julle hou aan om te wag vir die dag wanneer God vir almal ons Here Jesus Christus sal wys sodat ons Hom kan sien.

8. God sal julle vas laat glo tot die einde. Niemand sal julle kan beskuldig op die dag wanneer ons Here Jesus Christus weer kom nie.

9. God sal doen wat Hy belowe het. Hy het julle gekies om saam met sy Seun, ons Here Jesus Christus, te wees.

10. Vriende, julle behoort aan ons Here Jesus Christus. Daarom vra ek mooi vir julle: Julle moet saamwerk met mekaar, julle moenie groepe wees wat teen mekaar werk nie. Julle moet weer wees soos in die begin: Julle moet mekaar aanvaar, julle moet dieselfde dinge wil doen.

11. Vriende, Chloë se mense het vir my vertel dat julle met mekaar stry.

12. Ja, julle stry, want die een sê: “Ek behoort aan Paulus,” ’n ander een sê: “Ek behoort aan Apollos,” ’n ander een sê: “Ek behoort aan Sefas,” en ’n ander een sê: “Ek behoort aan Christus.”

13. Nee, ons kan Christus nie in groepe deel nie. En God het nie vir mý, Paulus, laat kruisig om julle sondes te vergewe nie. En toe julle gedoop is, was dit nie sodat julle aan Paulus sal behoort nie.

14. Ek sê vir God dankie dat ek niemand van julle gedoop het nie, ek het net vir Krispus en Gaius gedoop.

15. Nou kan niemand sê dat julle gedoop is sodat julle aan my sal behoort nie.

16. Ja, ek het ook die huisgesin van Stefanas gedoop, ek is nie seker of ek ook iemand anders gedoop het nie.

17. Christus het my nie gestuur om te doop nie, Hy het my gestuur om die goeie boodskap oor Hom te bring. Ek het die boodskap gebring, maar ek het dit nie gedoen met die slim woorde van mense nie, want as ek dit gedoen het, dan help dit nie dat Christus aan die kruis gesterf het nie.

18. Ja, vir die mense wat verlore gaan, is die boodskap oor die kruis iets wat dom lyk. Maar God het vir óns gered, en die kruis wys vir óns hoe sterk God is wanneer Hy ons red.

19. Want in die Ou Testament is geskryf: Ek sal die plannevan die slim mense laat misluk,en die dinge wat slim mense dink,sal Ek laat verdwyn.

20. Die wêreld se slim mense, die skrifgeleerdes en die mense wat goed kan dink en praat, beteken niks by God nie. Alles wat God gedoen het, het gewys die dinge wat slim mense dink, is dom.

1 Korintiërs 1